‘n Groep bekommerde ouers het Dinsdagoggend (3 Maart) voor Breërivier Senior Sekondêre Skool in Worcester hul misnoeë oor veiligheidstoestande by die skool met plakkate te kenne gegee.
Die skool, wat tussen Avianpark en Rivierview geleë is, sukkel al maande lank met toegangsbeheer, nadat die heining wat aan Avianpark se kant is, weer stukkend geknip en gesteel is kort nadat dit vroeër ook gesteel is.
Die ouers is bekommerd oor hul kinders se veiligheid, omdat enigeen nou toegang tot die skoolterrein het.
“Net verlede week was hier weer gangsters in skooltyd tussen die geboue in en het kinders met klippe gegooi.
“Hulle pla ook die onderwysers terwyl hulle klasgee,” het Natashya Kustoor gesê.
Vroeër is ‘n skooldogter op die skoolterrein van haar selfoon beroof nadat ‘n man gedreig het om haar te skiet as sy nie haar selfoon aan hom oorhandig nie.
“Dit kan nie so aangaan nie. Ons is baie bekommerd oor of ons kinders veilig is hier. Dit gaan al maande lank so aan,” het Kustoor gesê.
Stewiger heining
Die ouers het gesê ‘n draadheining gaan net weer gesteel word en die onderwysdepartement sal ‘n stewiger heining moet oprig.
Ten tyde van Standard Breederivier Gazette se besoek Dinsdagoggend net ná 09:00, het skoolkinders in die strate voor die skool rondgedwaal terwyl die personeel glo in ‘n vergadering was.
Vroeër het sommige onderwysers gesê dit is moeilik vir hulle om dissipline toe te pas as kinders kom en gaan, soos dit hulle pas.
Intussen sê Millicent Merton, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), dat die voortdurende vervanging van heinings weens diefstal nie ‘n lewensvatbare opsie is nie, en dus word alternatiewe ondersoek.
Merton het gereageer op ‘n navraag deur Standard Breederivier Gazette nadat die ongeïdentifiseerde liggaam van ‘n vroulike persoon Sondag (22 Februarie) binne die perseel van Breërivier Senior Sekondêre Skool gevind is.
Volgens Merton het die departement kennis geneem van die kommer oor die afwesigheid van veilige omheining by die skool.
“Ons Veilige Skole-komponent het voorheen die installering van sowat 30 meter se heining gefasiliteer, wat daarna gesteel is.
“Ons ondersoek tans opsies om die skool te ondersteun en om te verseker dat enige toekomstige installasie teen soortgelyke voorvalle beskerm word.
“Ons doen ‘n beroep op gemeenskappe om waaksaam te wees – ons skole is ook hul bates en ons vra dat enige verdagte gedrag onmiddellik aangemeld sal word,” het Merton bygevoeg. – Enrico Claassen en Ronél van Jaarsveld





