Ouers verpletter nadat 11-jarige seun in De Doorns doodgery is

Jemaine Witbooi
Jemaine Witbooi die 11-jarige seun van De Doorns wat doodgery is.

’n Ouerpaar van die GG-informele nedersetting in De Doorns is verpletter nadat hul 11-jarige seun Vrydag (17 April) deur ’n motorvoertuig raakgery is.

Jemaine Witbooi het later die aand in die Worcester-hospitaal aan sy beserings beswyk.

Die oorledene was ten tyde van sy dood ’n graad 5-leerder aan die Orchard Primêre Skool in De Doorns.

Volgens Jemaine se pa, Randall April (44), was hy (Jemaine) en ’n maatjie kort voor die tragedie op pad terug huis toe nadat hulle by ’n ander maatjie by die Driekamp-informele nedersetting gespeel het.

Hy sê op pad huis toe het Jemaine en die maatjie hande vasgehou. April sê soos hy verneem het, het Jemaine glo sy hand by die Sandhills-aansluiting losgeruk. Volgens hom het ’n bakkie sy seun getref toe hy die pad probeer oorsteek het.

April vertel dat vriende van Jemaine hom en sy vrou, Natasha (37), kort hierna van die ongeluk kom vertel het. Volgens April het hy en Natasha onmiddellik te voet na die ongelukstoneel gehaas.

“Toe ons daar aankom, toe lê Jemaine in die pad. Hy het ’n wond aan sy kop gehad en sy arm was gebreek. Daar het bloed uit sy neus gekom. Sy oë was oop. Ons [Randall en Natasha] het met hom gepraat, maar hy het nie reageer nie. My vrou was in ’n toestand. Ek het haar die heeltyd probeer troos.”

Volgens April is Natasha saam met Jemaine in die ambulans na die Worcester-hospitaal. Hy sê hy het intussen teruggekeer huis toe om na hul sesjarige dogter, Tashneem om te sien.

Volgens April het Natasha hom later die aand gebel en gesê Jemaine gaan na die Rooikruis-kinderhospitaal oorgeplaas word.

“Ek het toe vir haar en Jemaine klere ingepak en dit hospitaal toe geneem. Ek het toe weer terug huis toe gekom. Toe ek by die huis aankom, toe bel Natasha my om te sê Jemaine se toestand is kritiek. Sy het gesê sy pols en hart is swak.

“Toe ek gereed gemaak om terug te gaan hospitaal toe, toe bel sy my om te sê ons kind is oorlede. Ek kon my trane nie keer nie. Ek het myself die heeltyd afgevra ‘hoekom het ek nie liewer daar by hulle [in die hospitaal] gebly het nie’.”

Volgens April was Jemaine baie beskermend oor sy kleinsus, Tashneem, en het haar altyd opgepas.

Jemaine word ook oorleef deur ’n ouer broer, Lundon Bantam (16). Die gesin is nog besig met begrafnisreëlings.

Jemaine se skool sê die volgende oor hom op die skool se Facebook-blad: “Hy [Jemaine] was ’n begaafde en talentvolle leerder wat uitgeblink het in akademie en rugby.”

Luidens die inskrywing was Jemaine in 2025 onder die topdrie-akademiese presteerders.

* Nova News het Vrydag (17 April) berig oor die 15-jarige Down-sindroom-seun Jermaine Fokwana wat Donderdag (16 April) reg voor sy ouerhuis in Goudiniweg in die Rawsonville-distrik doodgery is. 

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article