Byna 50% van beginneronderwysers verlaat die professie binne vier jaar omdat hulle eenvoudig nie meer weet watter kant toe nie.
Só lui ‘n onlangse nuusbrief deur Afrikaans.com, wat die kommerwekkende stand van onderwysers se emosionele welstand in Suid-Afrika onder die loep geneem het.
Volgens die brief is onderwys een van die beroepe waar stres en geestesgesondheidsuitdagings toenemend voorkom.
Onderwysers ervaar hoë stresvlakke, emosionele uitbranding en ’n oorweldigende werkslas. Vir baie het die druk só intens geraak dat hulle geen ander uitweg sien as om te bedank en ’n nuwe loopbaan te volg nie – dikwels ter wille van hul eie welstand.
Afrikaans.com het besluit om die netelige kwessie openlik aan te spreek en ondersoek ingestel na die redes agter dié tendens, asook na moontlike oplossings om die krisis en gepaardgaande uitdagings die hoof te bied.
Die slotsom is duidelik: Onderwysers moet die nodige ondersteuning en geleentheid kry om hul werk binne die eise van die hedendaagse onderwyslandskap na die beste van hul vermoë te verrig. Dit vereis egter daadwerklike optrede en ’n werkbare plan.
Die land kan dit nie bekostig om nóg toegewyde onderwysers te verloor nie.




