WORCESTER – ‘n Man van Worcester tel weer die stukke van sy lewe op nadat sy lewenslange tronkstraf deur die hooggeregshof ná agt maande agter tralies ter syde gestel is.
Dit is sy hegte verhouding met sy seun wat vir Jeremy Claassen laat moed hou het ná sy skuldigbevinding en vonnis, nadat hy skuld ontken het. Ná amper vyf jaar is dié nagmerrie nou agter die rug en hy is weer ‘n vry man.
Claassen, wat ‘n lewensoriëntering-onderwyser by ‘n skool in Worcester was, is in 2020 deur ‘n gr. 8-leerder daarvan aangekla dat hy haar in die klaskamer verkrag het. Hy is aanvanklik skuldig bevind, maar die hooggeregshof het die vonnis op Dinsdag 24 Februarie ter syde gestel nadat die kwitansie van ‘n verkeersboete gewys het dat hy nie op daardie tydstip by die skool was nie.
Die 13-jarige het in die hof getuig dat sy haar selfoon gedurende pouse in sy klaskamer gaan laai het toe die voorval gebeur het. Die tyd wat op die kwitansie aangedui word, wys egter dat hy nie op daardie tydstip terug was nie.
Nie bo alle twyfel skuldig nie
Volgens die uitspraak wys die betaling van die verkeersboete en ander teenstrydighede in die klaer se getuienis dat sy skuld nie bo alle twyfel bewys is nie.
Claassen het vier jaar agter tralies spandeer – ‘n tyd waarin hy afgesny was van sy familie en vriende, sy werk verloor het en geen inkomste kon verdien nie. Sy regskoste om sy onskuld te bewys het derduisende rande beloop. “Dié storie het my persoonlik baie gekos, maar ek moet nou die stukke optel en weer aan my toekoms begin bou,” het hy aan Standard gesê.
“Ek het tydens die hofsaak ‘n groot innerlike stryd gehad oor die onreg wat my aangedoen is. Ek is nou rustiger en het die klaer vergewe.”
Hy raai ander onderwysers aan om hulself te beskerm en seker te maak dat hulle nie in sulke situasies kan beland waar hulle valslik beskuldig kan word nie.
Hoewel baie mense hom aanvanklik verdoem het, sê Claassen dat hy nou baie ondersteuning in die gemeenskap kry. “Familie en goeie vriende het my deur dié tyd gedra,” het hy gesê.
Eerste gedagte was sy seun
“Toe die wagte my roep en sê ek moet my goed pak, het ek nie dadelik besef wat gebeur nie. Dit was reeds ná ure. My heel eerste gedagte was om by my seun uit te kom. Ek kon nie wag om die goeie nuus met hom en die familie te deel nie. Hierdie storie het hulle net so hard getref,” het hy gesê.
Hy het meer as drie jaar agter tralies spandeer en is in die Brandvlei-gevangenis buite Worcester aangehou. Hoewel hy nie daaroor wou uitbrei nie, sê hy dit was ‘n baie uitdagende tyd. “‘n Mens moet jouself maar hard hou daarbinne, want jy kry met mense te doen wat anders dink en optree as jy. Ek het baie van my tyd spandeer om ‘n Bybel-kursus te volg en van die gevangenes wat gesukkel het om vorms in te vul gehelp.”
Oor sy pad vorentoe het Claassens nog nie duidelikheid nie. Hy twyfel of hy na die onderwys sal terugkeer. “Ek raak net eers weer rustig, voordat ek besluit watter rigting ek gaan inslaan,” het hy gesê.





