Twee van die drie grootste pampoene wat aan die Groot Pampoenfees in Heidelberg deelgeneem het, is in die Nuy-vallei buite Worcester gekweek.
Die fees, wat besoekers en pampoene van wyd en syd lok, is van 26 to 28 Maart gehou.
Piet Lotz het vir die vierde jaar die swaarste pampoen ingeskryf, met vanjaar se wenpampoen wat ‘n allemintige 1 221 kg weeg. Lotz boer tussen Stilbaai en Riversdal.
LEES OOK: Enorme pampoen breek SA-rekord by fees in Heidelberg
Dié bieliepampoen het ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord opgestel, asook ‘n Suidelike Halfrond-rekord. Dit weeg net 57 kg minder as die wêreldrekord.
Pieter Conradie, wat met wyndruiwe en artisjokke in die Nuy-omgewing boer, se pampoen het die derde plek behaal, met ‘n gewig van 793 kg.
John Booysen, ook van Nuy, het die tweede plek gekry met sy pampoen wat 816 kg geweeg het.
Standard het met Conradie gesels oor wat dit verg om só ‘n pampoen te kweek.

“My pampoenreis het begin toe Piet Lotz vir my ‘n pampoenpit vir my dertigste verjaardag gegee het. Hy het gesê ek kan nou nie meer net praat nie, ek sal nou moet doen,” vertel Conradie.
“Ek het vir John, wat op die plaas werk, gereeld gevra om te help om na die pampoene te kyk want dit is baie werk – so het hy ook betrokke geraak en begin plant. Ons werk nou so saam-saam.”
Booysen het in 2024 ook ‘n tweede plek in die kompetisie behaal.
Conradie sê daar heers groot spangees onder die pampoenkwekers en hulle moedig mekaar aan. “Ons droom daarvan dat die wêreldrekord Suid-Afrika toe kom. As ek kyk na wat ons vermag met pampoene wat buite gekweek word, teenoor die Paton-broers in Engeland wat die wêreldrekord hou en hul pampoene in kweekhuise met klimaatbeheer kweek, is ek vol vertroue dat ons die rekord nog gaan breek.”
Die afgelope seisoen of twee se onvoorspelbare weer met baie reën en hoë temperature het sake bemoeilik.
Die pampoene word gepamperlang – vandat die pit geplant is. Die regte kunsmis en hoeveelheid water is belangrik. Hoewel dit help as ‘n mens kennis het, kan nuwelinge steeds deelneem.
“Mens leer elke seisoen iets nuuts en die ander kwekers is vrygewig met raad. Daar is egter geen resep wat noodwendig vir almal gaan werk nie.”
Een van die senutergendste dele is wanneer die groot pampoene gelaai en Heidelberg toe vervoer moet word. Een jaar het ‘n pampoen, wat meer as ‘n ton geweeg het, met die optelslag gebars. Dit breek ‘n kweker se hart as baie maande se harde werk in ‘n oogwink tot niet is.
‘n Harnas word om die pampoene gesit, waarna hulle versigtig met ‘n laaigraaf opgelig en saggies op ‘n matras agter op ‘n waentjie neergesit word.
“Die rit tot op Heidelberg is nogal ‘n storie. Mens kan nie vinnig ry nie en die voertuie wat verbykom, is so gefassineer deur die groot pampoene wat ons sleep dat hulle nie kyk waar hulle ry nie!”
Wat word van die pampoene wat ingeskryf word? ‘n Mens kan sekerlik net soveel pampoentert en pampoenkoekies maak? Volgens die feesorganiseerders word die wenpampoene oopgesny om die pitte te oes (dit dra goeie genetika). Die pampoen se vleis word gebruik vir veevoer of geskenk. Die pampoene is geneig om waterig en draderig te wees.
Die saadmaatskappy Stark Ayres stoor die geoesde saad sodat die genetika bewaar bly. Die tipe pampoen wat mees algemeen geplant word, is die Giant Atlantic.
Daar is vanjaar 26 pampoene ingeskryf. “Dit is lekker om die nuwe inskrywings te sien,” sê Conradie. Oor hoe sy gesin oor dié tydverdryf voel, lag hy net. “My sesjarige dogtertjie, Katrien, verstaan nie so lekker hoekom sukkel die klein pampoene in die winkel so nie.”






You must be logged in to post a comment.