HEIDELBERG – Die bakkies en sleepwaentjies het stadig en versigtig aangery gekom – swaar gelaai met die bielie pampoene bestem vir die Groot Pampoenfees op Heidelberg in die Wes-Kaap.
Tydens vanjaar se fees het die wenner, Piet Lotz, se enorme pampoen ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord én ‘n rekord vir die Suidelike Halfrond opgestel met ‘n indrukwekkende gewig van 1221kg. Die wengeld het hom R30 000 in die sak besorg.
Lotz het ook verlede jaar die kompetisie gewen met ‘n pampoen wat 1 120kg geweeg het.
Die pampoene, waaraan die deelnemers maande lank gegroei en gepamperlang het, is op Saterdag 28 Maart beoordeel.

John Booysen was in die tweede plek met ‘n pampoen wat die skaal op 816kg getrek het en Pieter Conradie se inskrywing was ‘n lywige 793 kg.
Dié fees het, benewens die pampoen-inskrywings, besoekers oor lewendige vermaak verskaf, ‘n 4×4-dag en ‘n gholfdag. Dit word reeds sedert 2008 gehou, met die inskrywings wat jaar ná jaar al groter word.
Die huidige wêreldrekord vir die grootste pampoen is verlede jaar opgestel deur twee broers, Stuart en Ian Paton van Hampshire in Engeland. Hulle het ná jare se probeerslae uiteindelik die grootste pampoen gekweek wat 1278kg geweeg het en ‘n omtrek van 6,4m gehad het.
Ná die fees gaan Heidelberg sekerlik lekker eet: pampoenkoekies, soetpampoen, soutpampoen, gebakte pampoen, pampoentert, pampoensop!




You must be logged in to post a comment.