Nuwe televisiereeks wys leerders se innoverende idees

Verfilming van Ideemakers.
‘n Toneel word verfilm vir Ideemakers. FOTO: Storytown Productions

BLOEMFONTEIN – ‘n Produksie wat fokus op skoliere wat innoverende en praktiese planne maak, begin Vrydag 3 April op die DSTV-kanaal kykNET (144).

Ideemakers is ‘n droom van dr. Mariana Erasmus, direkteur van die Sentrum vir Minerale Biochemie (CMBG) aan die Universiteit van die Vrystaat.

Die sentrum is sedert 2021 betrokke by TritechSA, ‘n kompetisie wat ontwerp is om hoërskoolleerders te inspireer en uit te daag om wetenskap, ingenieurswese en tegnologie deur innoverende navorsingsprojekte te verken.

'n Opname van Ideemakers.
Liandri Terblanche (deelnemer aan Tritech van Tzaneen) saam met Eddie Stanley (kameraman) en Thinus Mathee (klankman) tydens die verfilimg van Ideemakers. FOTO: Storytown Productions

Uit die UV se betrokkenheid by die kompetisie, het daar nou ‘n televisiereeks van agt episodes gevloei wat fokus op van die leerders se projekte.

Erasmus, nou ook ‘n raadslid van TritechSA, sê hoewel die Tritech- wetenskap en tegnologiekompetisie nou in Limpopo aangebied word, is skole van oor die land heen welkom om deel te neem.

Ideemakers is vervaardig deur die Bloemfonteinse produksiehuis Storytown Productions van Charlene en Eddie Stanley.

Op die bekendstelling van Ideemakers was verteenwoordigers van die Universiteit van die Vrystaat, TritechSA en Storytown Productions.
Op die bekendstelling van Ideemakers is van links prof. Ylva Rodny-Gumede (uitvoerende direkteur: Vooruitgang, UV), dr. Mariana Erasmus (direkteur: Sentrum vir Minerale Biogeochemie, UV), prof. Paul Oberholster (dekaan: fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe, UV), prof. Vasu Reddy (adjunkvisekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, UV), Estia Warmenhoven (stigterslid: Tritech-wetenskapsekspo), Ada Venter (stigterslid en voorsitter: Tritech-wetenskapsekspo), Charlene Stanley (vervaardiger: Storytown Productions) en dr. Glen Taylor (senior direkteur: Navorsingsontwikkeling, UV).

Tydens die bekendstelling van die reeks Woensdag 18 Maart by die Naval Hill-planetarium se omgewingsentrum, is een van die episodes vir gaste vertoon.

Die reeks oor agt episodes volg die reise van jong aspirant-wetenskaplikes terwyl hulle werklike uitdagings ondersoek en hul projekte voorberei vir die nasionale Tritech-kompetisie.  Vir die universiteit weerspieël die inisiatief ‘n breër verbintenis om wetenskap toeganklik te maak.

“Deur die ware stories van jongmense en hul idees te deel, inspireer ons ander om te omhels wat moontlik is. Ons vertoon nie net wetenskap nie, ons brei uit wat jongmense glo moontlik is,” het prof. Vasu Reddy, adjunkvisekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies aan die UV, tydens die bekendstelling gesê. “Projekte soos hierdie bring ons nader aan ons visie om betekenisvol by te dra tot verantwoordelike maatskaplike toekoms.”

Prof. Ylva Rodny-Gumede, uitvoerende direkteur vir Voortuitgang by die UV, het die inisiatief verwelkom en die belangrikheid van die deel van kennis met ‘n wyer gehore benadruk. “Deur hierdie reeks word die merkwaardige werk van innoverende mense by die UV ook met ‘n breër publiek gedeel,” het sy gesê. “Dit beklemtoon hoe idees wat in ons akademiese ruimtes gegenereer word, betekenisvolle gesprekke kan aanwakker en nuwe denkwyses kan inspireer.” 

Op die bekendstelling van Ideemakers was verteenwoordigers van die Universiteit van die Vrystaat, TritechSA en Storytown Productions.
Spanlede van Storytown Productions tydens die verfilming van Ideemakers. FOTO: Storytown Productions

Reddy stem saam: “Die toekoms van wetenskap begin dikwels met ‘n eenvoudige vraag. Ons rol as universiteite is om ruimtes te skep waar daardie nuuskierigheid kan groei. Innovasie floreer wanneer klaskamers, universiteite en die samelewing deur doel en geleenthede verbind is.”

Die reeks demonstreer ook die belangrikheid van samewerking in die bevordering van kennis. Deur skole, universiteite, mediavennote en die breër publiek bymekaar te bring, skep IdeeMakers ‘n platform waar wetenskaplike idees wyer gedeel kan word en waar innovasie deel van die openbare gesprek word.

Die eerste episode van Ideemakers word Vrydag 3 April om 17:30 op kykNET uitgesaai.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article