Jabulani Zuma word van die moord op Piet Els, en huisroof met verswarende omstandighede, aangekla.

Foto: Charné Kemp

Die enkele kere wat Jabulani Zuma, seun van oudpresident Jacob Zuma, verlede week stom in die getuiebank was, was toe hy met gebalde vuiste en “stywenek” geweier het om vrae te beantwoord oor die gewraakte verklaring wat hy in Maart 2021 met sy inhegtenisname afgelê het.

Zuma en ses ander word in die hooggeregshof in Kimberley aangekla van die moord en aanval in Januarie 2018 op Piet Els (86), bekende sakeman, en sy vriendin Rikkie Alsemgeest (toe 68) op Els se plaas buite Kimberley.

Els is weke later aan sy beserings dood terwyl Alsemgeest oorleef het.

Geld, munte, juwele en vuurwapens is gebuit.

Die regter het Zuma gewaarsku dat sy swye gevolge dra, en aangeteken dat hy weier om sommige vrae te beantwoord.

Jabulani Zuma word van die moord op Piet Els, en huisroof met verswarende omstandighede, aangekla.

Zuma voer aan hy het nie die verklaring geteken nie, slegs geparafeer. Hy ontken die inhoud daarvan en beskuldig die polisie van ’n sameswering teen hom.

Die aangeklaagdes is Morapeli Rankali (28) en Motlalentwa Qhautse (37), van Lesotho, Lizbeth Ndlala (56) en haar man, Themba Lawrence Maja (68), Oupa Jeffrey Mahomane (44), almal van Pienaar in Mpumalanga, Samson Sam Mbokane (63) van Mbombela in Mpumalanga, en Zuma (62) van Mtubatuba, KwaZulu-Natal.

Die staat voer aan Zuma het van sy huis in KwaZulu-Natal na Mbombela in Mpumalanga gery om vier van die beskuldigdes op te laai.

Van hulle is tradisionele helers wat teen betaling ’n ritueel moes uitvoer om ’n “spook in Kimberley te verwyder en ou munte op te grawe”.

Op 22 Januarie 2018, met hul aankoms in Kimberley is hulle na die huis van ene Amos Ralihlare. Op die aand van die voorval het drie onbekende Sotho-sprekende mans by hulle aangesluit. Zuma het na bewering vir Mahomane en die drie mans naby die plaas afgelaai.

Sy selfoonbewegings en -aktiwiteite toon hy het na bewering al om die toneel gery en met die mans in die plaashuis kommunikeer. Teen sonsopkoms is die mans weer opgelaai. Die staat voer aan terug by Amos se huis het Zuma die buit verdeel en is hy sy geselskap daar weg.

Jongste weergawe verskil
In Zuma se jongste weergawe, was hy daardie nag by Amos se huis in ’n diepe slaap en wis hy niks van ’n misdadige plan, die drie onbekende mans of van ’n sak uit Els se huis met die buit daarin wat in en uit sy motor gelaai is.

Regter Lawrence Lever het Zuma verlede week drie keer gewaarsku dat hy hom moet inhou, anders kan hy as ongeloofwaardige getuie in die uitspraak beskou word.

Nadat Zuma “stywenek” geword het soos hy dit gestel het, het hy geweier om die aanklaer se vrae oor die inhoud van die verklaring te beantwoord. Volgens hom het die polisie die verklaring uitgedink in ’n komplot teen hom. Zuma wou nie toegee dat die polisie destyds sy regte verduidelik en regsverteen­woordigers voorgestel het nie.

In die verklaring bevestig Zuma hy het Mbokane gevra om saam na Kimberley te reis om ’n “job” te doen. Later het hy sy weergawe verander en gesê Mbokane het hom gevra om hom na Kimberley aan te ry. Zuma noem in die verklaring dat hy ná die voorval in ’n gastehuis in Benoni oorgeslaap het. Laasgenoemde feit is ook in sy hoofgetuienis genoem. Zuma noem ook die rooi Hyundai-voertuig in die verklaring waarmee hy gery het.

Zuma het in die verhoor etlike kere aangedring op ’n binneverhoor om die verklaring se geldigheid en toelating as bewysstuk te betwis.

Die Noord-Kaapse regstelsel is volgens hom “swak, korrup en lelik” en sal hy geen regter aanvaar nie.

Adv. Hannes Cloete, aanklaer, het ondanks uitbarstings ongestoord vrae gestel en teenstrydighede in Zuma se verklarings, stellings aan getuies en hoofgetuienis uitgewys.

Die twee het mekaar stip in die “bokskryt”, soos Zuma dit gestel het, aangestaar.

Cloete het gesê hy het begrip met Zuma wat ongemaklik met kruisondervraging is, maar dat Zuma homself nie ’n guns doen met sy beledigings en dreigemente waaragter hy sy skuld probeer versteek nie.

Zuma ontken ook hy het destyds aan ’n ondersoek­beampte gesê hy sal die opperbrein wat in Lesotho skuil, openbaar indien die polisie nie sy borgtogaansoek teenstaan nie. Hy ontken hy het op ’n tydstip gesê hy sal “name noem”.

Ter afsluiting van sy kruisondervraging het Cloete gesê hy gaan in sy slotbetoë aanvoer dat Zuma ’n leidende rol in die misdadige groep se rooftog gespeel het. Hy sal die hof versoek om Zuma op aanklagte van huisroof met verswarende omstandighede en moord skuldig te bevind.

“Zuma was nie betrokke nie, hy het niemand doodgemaak nie,” het Zuma geantwoord.

Die verhoor is tot 15 April 2024 vir slotbetoë uitgestel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article