Die jaarlikse Wesgrow Sentrale Skole Sport-reeks is om die draai, en skole kan nie wag vir die begin van die nuwe sportseisoen nie.

Hierdie reeks is veel meer as net ‘n stel wedstryde. Sportgeleenthede soos die Wesgrow-reeks speel ‘n belangrike rol in die holistiese ontwikkeling van jongmense.

Vanjaar begin die reeks op Saterdag 14 Maart wanneer Goudveld teen Jim Fouché, Witteberg teen Sentraal, Trio teen Diamantveld en Voortrekker teen Fichardtpark kragte meet.

Die reeks bied aan leerders die geleentheid om hul talente op die sportveld uit te leef, nuwe vriendskappe te smee en waardevolle lewensvaardighede te leer.

Dit bied ook aan entrale skole die geleentheid om in hokkie, netbal en rugby teen mekaar deel te neem, en die hoofdoel van die reeks is om massadeelname te bevorder.

Die reeks het in 2018 begin. In 2020 en 2021 het dié reeks egter weens die Covid-19-pandemie nie plaasgevind nie.

LEES OOK: Wesgrow Sentrale Skole Sportreeks: Diamantveld die rugbyheld

Die deelnemende skole is Bethlehem Voortrekker, Hoërskool Witteberg, Hoërskool Trio, Hoërskool Sentraal, Hoërskool Fichardtpark, Hoërskool Jim Fouché, Goudveld Hoërskool en die Hoërskool Diamantveld.

Strawwe mededinging wag

Hoërskool Sentraal was in 2025 die algehele wenner asook die netbalwenners, met Bethlehem Voortrekker en Jim Fouché onderskeidelik die wenners van meisies- en seunshokkie.

Hoërskool Diamantveld was die rugbykampioene.

“Sterkte aan elke skool met die nuwe seisoen en ek glo dat elke wedstryd met passie, respek en trots vir sy of haar skool gekenmerk sal word. Wie gaan hierdie jaar met die louere wegstap? Ons glo daar gaan baie strawwe mededinging wees op die veld,” sê Francois de Kock, direkteur: mediaskakeling.

“So ‘n sportreeks kan nie plaasvind sonder borge nie en groot dank aan ons borge naamlik: Wesgrow, VKB, Skilltracer, en Kovsies vir die volgehoue ondersteuning en belegging in skolesport.

“Ons wil dankie sê vir Novus Media, wat die mediaborg is, vir hul blootstelling aan ons skole.

“Dit dra by tot die groei en ontwikkeling van ons jeug en skep waardevolle geleenthede en blootstelling”.

  • Kry die volledige program hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article