Die Junior Springbokke kry Vrydag (14/07) in Kaapstad ’n kans om hul veldtog in die o.20-Wêreldbekertoernooi op ’n positiewe noot af te sluit wanneer hulle teen Engeland speel.
’n Oudleerling van die Laerskool op die Voorpos in Upington, Regan Izaks (20), is in die 30-tal van die Junior Bokke ingesluit wat van 24 Junie tot Vrydag aan dié toernooi deelneem.
Izaks is ook in die span ingesluit wat Vrydag aan die uitspeelstryd om die derde plek in die toernooi deelneem. Wim Pretorius berig ‘n “kwaai kragmeting” teen Engeland word verwag.
“Engeland is taai. Die aard van die toernooi is so dat daar geen maklike wedstryd is nie. Ons het teen Italië verloor en hulle speel nou in die wedstryd (teen Japan) om te bepaal wie gerelegeer gaan word,” sê Bafana Nhleko, afrigter van die Junior Bokke.
“Engeland speel teen ‘n hoë tempo. Hy hou daarvan om die bal deur die hande te neem en dit op die punte te kry met goeie hardlooplyne.”
Izaks is ná sy hoërskoolloopbaan aan Grey-kollege (sekondêr) in Bloemfontein deur die Blou Bulle opgeraap.
Hy word as ’n veelsydige speler beskryf en is in die span as losskakel ingesluit, en sou ook as heelagter aangewend word.
Dié Noord-Kapenaar het op 29 Junie as heelagter sy eerste proesel van internasionale rugby ondervind.
Hy was deel van die Junior Bokke se titaniese stryd op ’n modderige veld teen Italië se Azzuri-span by die Paarl Gimnasium.
Hier het die Junior Bokke met 26 – 34 vasgeval.
Die wedstryd is as ’n “modderbad, nat, koud, en as jy ’n Suid-Afrikaanse ondersteuner is, boonop bitter” beskryf.
Op 24 Junie het die Junior Bokke die wedstryd teen Georgië met 33 – 23 gewen.
Ná ’n sege van 24 – 16 op 4 Julie teen die Argentynse Pumas, was die span van ’n plek in die halfeindstryd verseker.
Op Sondag (09/07) het die Junior Bokke egter hul halfeindstryd teen Ierland met 12 – 31 verloor.
Die Junior Bokke pak Engeland Vrydag om 16:30 in die stryd om brons in die Athlone-stadium, met Ierland en Frankryk wat om 19:00 in die eindstryd om goud en silwer sal meeding.
Saamgestel; Nick Pretorius, Helena Barnard en Wim Pretorius




