NovaNews

Grootskaalse soek-en-reddingspoging na vyf vermistes by Du Toitspan-myn

’n Grootskaalse soek-en-reddingspoging is tans aan die gang by die Du Toitspan-myn van Ekapa Minerals in Kimberley nadat ’n ernstige modderstorting en gepaardgaande vloed vyf werknemers ondergronds vasgekeer het.
Die reddingspoging na vyf myners by die Du Toitspan-myn duur nog voort. FOTO: Charné Kemp

’n Grootskaalse soek-en-reddingspoging is tans aan die gang by die Du Toitspan-myn van Ekapa Minerals in Kimberley nadat ’n ernstige modderstorting en gepaardgaande vloed vyf werknemers ondergronds vasgekeer het.

Intussen het ʼn verteenwoordiger van Mines Rescue bevestig dat hulle reeds ingeroep en op die toneel is om die mynmaatskappy by te staan.

Luidens ʼn verklaring van Ekapa het die voorval in die vroeë oggendure van Dinsdag 17 Februarie, omstreeks 00:56, plaasgevind.

Ekapa Minerals sê die storting het op die 890 meter-vlak plaasgevind.

Vyf kontrakteurs word vermis. Noodprotokolle is onmiddellik geaktiveer en verskeie spesialis-spanne is ontplooi.

“Die reddingspogings  behels dat gespesialiseerde spanne van naburige myne onderweg is om met die soektog te help. Groot volumes water word uitgepomp. Daar word aktief in die rigting van moontlike skuilplekke geboor waar die werknemers hulself dalk kan bevind. Modder en puin word verwyder om toegang tot die geaffekteerde area te kry.

Ekapa Minerals het die departement van minerale bronne en petroleum (DMPR) formeel in kennis gestel. Die myn werk ten volle met owerhede saam.

Die families van die betrokke werknemers is reeds ingelig. Die maatskappy versoek dat die privaatheid van die families gerespekteer word “tydens hierdie moeilike tyd en het onderneem om ondersteuningsmaatreëls beskikbaar te stel.”

Hoewel die situasie kritiek is, “weier die myn om te bespiegel oor die presiese oorsaak van die modderstorting.”

Hulle fokus uitsluitlik op die veiligheid en suksesvolle redding van die vermiste kontrakteurs.

Verdere nuus sal verskaf word sodra geverifieerde inligting beskikbaar is.

Gespesialiseerde dienste ontbied

Mines Rescue Services (MRS) is ’n gespesialiseerde, nie-winsgewende organisasie in die privaatsektor wat noodreaksie-, brandbestrydings- en reddingsdienste aan die Suid-Afrikaanse mynbedryf lewer.

Luidens hul webwerf is hulle is veral bekend vir hul elite-spanne wat algemeen as “proto-spanne” bekendstaan.

Reddingsoperasies word uitgevoer deur vrywilligers, wat streng fisiese en sielkundige opleiding ondergaan het. Hulle werk vanuit Carletonville, Evander, Steelpoort en Welkom.

Omdat Suid-Afrika van die diepste myne ter wêreld het, word MRS wêreldwyd erken vir hul kundigheid in hoëdruk-, hoëhitte- en ultradiep reddingsoperasies (tot 3 000 meter diep).

Hul gespesialiseerde toerusting sluit ʼn unieke mobiele reddingshyser in wat dieptes van 3 000 meter kan bereik. Hulle gebruik ook gevorderde kameras met stemvermoëns om met vasgekeerde mynwerkers te kommunikeer.

Mannas Fourie, die uitvoerende hoof, was ook betrokke by die redding van honderde vasgekeerde mynwerkers in Stilfontein of om oorskot uit die myn te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article