Sy is twee jaar ná die eerste demokratiese verkiesing gebore.
As ’n plattelandse kind van ’n verafgeleë gehuggie was die naaste skool wat sy kon bywoon, ’n plaasskool.
Hier is elke skooldag voor die skoolgebou met sy drie klaskamers, een kantoor en puttoilette begin. Die hoof het met skriflesing en gebed geopen, daarna het hulle “Nkosi Sikelel’ iAfrika” gesing.
Kinderstemme, die dreun van trekkers, bulk van beeste, blêr van skape en kekkel van hoenders was ’n simfoniese seënwens na die hemel.
Pouses het hulle kos gekry, deur die departement verskaf. Die vrou van die plaas het toegesien dat liters vars melk elke eerste pouse by die skool afgegee word. Die vrou het ’n biblioteek begin waar hulle boeke kon lees, en prente uit tydskrifte en koerante vir skooltake knip.
Elke sertifikaat wat sy ontvang het, het haar ouma trots vir die vrou van die plaas gewys. Want die vrou van die plaas het graag gehelp; graag die lewe makliker probeer maak.
Haar ouma was haar alles, want haar bloedma en -pa was jare reeds oorlede.
Tyd het nie ledig stilgestaan nie; sy aanstap het veranderinge gebring. Ook dood en verhuising. Die plaasskool is deur die departement toegemaak en die kinders moes die nuwe groot skool in die groot dorp bywoon.
Haar ouma het ook na dié dorp verhuis – want daar, so is sy belowe, kry sy ’n eie stukkie grond en ’n eie steenhuis met water en elektrisiteit.
Die groot skool was ná jare nie klaar gebou nie; die spoeltoilette meestal onbruikbaar weens ’n rompslomp met waterverskaffing.
Haar skoolloopbaan is onherstelbaar geknou deur stakende onderwysers en boukontrakteurs. Haar ouma is oorlede sonder dat selfs twee stene van haar beloofde huis op mekaar gepleister is.
Sy leef op “social grant”. Sy pas haar twee kinders op terwyl die pa elders werk. Sy hou die sinkhuisie waarin haar ouma gebly het, skoon en netjies. Sy stof elke dag haar ouma se “room divider” af. Sy luister uit vir vaardigheidsprogramme vir jong vroue soos sy wat met wiskunde en wetenskap gesukkel het. Sy smag na ’n werk en ’n inkomste; na iets om net vir haarself te doen.
Vandag, op die 29ste Vryheidsdag, voel sy nie vry nie.



