Die belangrikheid en waarde van lees is opnuut aan leerlinge aan die Laerskool Wrenchville in Kuruman beklemtoon tydens hul deelname aan Wêreldhardopleesdag.

Adonia Jacobs, departementshoof vir Afrikaans aan die skool, vertel dat nie net gr. 4- tot gr. 7-leerlinge hardop gelees het nie; ook onderwysers en nie-doserende personeellede het dié kleurryke voorleesdag geniet.

Vir dié dag het elke leerling die kortverhaal “Vir Dewald”, geskryf deur die Noord-Kaapse skrywer Anzil Kulsen, voorgelees.

Dié verhaal is in die Platinum Huistaal-bundel vir gr. 7-leerlinge opgeneem.

Jacobs, wat al 38 jaar in die onderwys is, vertel dat die skool jare terug aan ATKV-olimpiades deelgeneem het, maar dat dit doodgeloop het.

Deelname aan vanjaar se voorleesdag beskou sy as die beginpunt van deelname aan vanjaar se 100-jarige vieringe van Afrikaans.

d

Onderwysers en ander personeellede wat ook geesdriftig aan die voorleesdag deelgeneem het.

Jacobs het “flink gedink” en lesse uit die verhaal bespreek, en oor die belangrikheid van lees gepraat.

Sy het ook haar gunstelinggedig voorgelees.

“As jy nie kan lees nie, en nie kan lees met begrip nie, kan jy nie vorder nie.”
Adonia Jacobs

Die leerlinge het die dag baie geniet.

Intussen het Jacobs ’n leesprogram saamgestel waarin ’n kort leesstukkie in elke vak-gebied gelees kan word.

Nie net lees die kinders só meer nie; is dit herhaling van ’n stuk werk in die spesifieke vak.

Dit is jammer dat die afgebrande biblioteek van Wrenchville steeds nie herstel is nie, en dat kinders – veral diegene wat nie vrye toegang tot internet het nie – die geleentheid misgun word om toegang tot boeke te hê, meen sy.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article