Die simptome van die kontantvloeikrisis van skole is aangespreek, maar die kernoorsake van finansiële wanbestuur in die Noord-Kaapse departement van onderwys moet steeds hanteer word.
Só het die departement op Donderdag 13 Februarie tydens ’n vergadering bevestig.
Priscilla Isaacs, DA-LPW, en die party se provinsiale woordvoerder oor onderwys, sê die party verwelkom die verbintenis van die lede van die uitvoerende raad (LUR) vir finansies en onderwys, Venus Blennies en Abraham Vosloo, om gereeld aan die Noord-Kaapse provinsiale wetgewer verantwoording te doen oor die finansiële situasie waarin skole in die provinsie hulself bevind.
Begrotingsbesnoeiings en personeelbegrotings word deur die departement se finansiële besluitneming vererger, en sy skuldlas van R3,9 miljard in ongemagtigde, onreëlmatige en vrugtelose uitgawes.
Volgens die verklaring het die departement die boekjaar met ’n tekort van R127 miljoen begin, uitstaande rekeninge in ag geneem. Uitstaande skuld het meer as R510 miljoen beloop, waarvan 60% vir langer as ’n maand agterstallig was.
“Dit is ononderhandelbaar dat elke sent oordeelkundig bestee moet word,” sê Isaacs.
Opvolgsessies sal met albei LUR’e plaasvind om volle finansiële verantwoording van die provinsiale regering te verseker.
Intussen het Ciska Jordaan, DA-LP en adjunk-woordvoerder van basiese onderwys, gesê swak finansiële bestuur ontwrig leerlinge in veral die Noord-Kaap en KwaZulu-Natal se toegang tot skoolmaaltye.
Jordaan sê die nasionale skoolvoedingsprogram verskaf elke skooldag nagenoeg 9,7 miljoen maaltye aan leerlinge. Dit is die verantwoordelikheid van die provinsiale departemente van onderwys om die program te bestuur, diensverskaffers aan te stel, en voedselgehalte en aflewering te verseker.
Sy sê die onderbreking van die program in die Noord-Kaap het daartoe gelei dat baie leerlinge sonder kos gelaat is, en dat geen etes in sommige koshuise verskaf is nie. Dit word verwelkom dat geld intussen beskikbaar gestel is.
Volgens Jordaan kan onderwysdepartemente nie lang reisafstande as ’n struikelblok in die voorsiening van maaltye gebruik nie, aangesien die logiese oplossing sou wees om gebruik te maak van verskaffers in ’n skool se streek of distrik.
Die party sal parlementêre vrae aan die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, voorlê om duidelikheid te kry of die departement ondersoeke gedoen het na die redes en die gevolg van swak bestuur van die voorsieningsketting van die skoolvoedingsprogram.




