NovaNews

Uitdagende soektog duur voort na vyf by Kimberley se Du Toitspan-myn

Terwyl die grootskaalse soek-en-reddingspoging na vyf vermiste kontrakteurs by Ekapa Minerals se Du Toitspan-myn by Joint Shaft met behulp van Mines Rescue Services (MRS) voortduur, staar uitdagings die reddingswerkers in die gesig.
Mannas Fourie doen ʼn televisieonderhoud. FOTO: Facebook/Mines Rescue Services

KIMBERLEY – Terwyl die grootskaalse soek-en-reddingspoging na vyf vermiste kontrakteurs by Ekapa Minerals se Du Toitspan-myn by Joint Shaft met behulp van Mines Rescue Services (MRS) voortduur, staar uitdagings die reddingswerkers in die gesig.

Die voorval wat in die vroeë oggendure van Dinsdag 17 Februarie plaasgevind het, is veroorsaak deur ‘n modderstorting en gepaardgaande vloed op die 890 meter-vlak.

Luidens ‘n verklaring van Ekapa Minerals is alle noodprotokolle geaktiveer en die departement van minerale hulpbronne in kennis gestel. Intussen word groot volumes water uitgepomp terwyl daar geboor word waar die werkers moontlik kan skuil.

Mannas Fourie, uitvoerende hoof van MRS, het bevestig hulle help die maatskappy in die reddingsoperasie. Hulle is ‘n gespesialiseerde organisasie wat elite-“proto-spanne” en toerusting vir mynbou-ongelukke kan voorsien. Die reddingspanne bestaan uit vrywilligers wat daagliks verskeie beroepe op verskillende myne beklee en oor wye kennis en ondervinding beskik.

Volgens Fourie is die stabilisering van modder uiters uitdagend omdat dit in teenstelling met ‘n rotsstorting, onvoorspelbaar is. Water bly altyd ’n risiko vir sekondêre modderstortings, hoewel die fisieke tonneltoestande stabiel blyk te wees.

Werp alles in stryd

“Elke voorval is uniek. Ons doen daarom baie moeite om alle rolspelers te raadpleeg om soveel inligting aangaande die situasie te kry. Die mynbestuur, amptenare en ons werk nou saam. Ander hulpbronne is ook beskikbaar en ons werp alles in die stryd om met die vermistes mense kontak te maak. 

“Elke reddingsoperasie is gevaarlik en ons moet ook die reddingspanne beskerm teen gevaar en die nodige maatreëls word nagekom.

“Voortdurende assesserings van die toestande word gedoen soos wat die reddingspoging en reddingspanne vorder.”

Oor die gebruik van gespesialiseerde toerusting meen Fourie dat hulle nie die mobiele reddingshyser,  wat vir vertikale reddings ontwerp is, nodig het nie. Dié toerusting is onlangs met sukses gebruik in die Stilfontein-gebied waar onwettige mynwerkers en ander se oorskot uit skagte verwyder is.

Volgens Fourie is die Du Toitspan-myn se skag en ingangstonnels oop en operasioneel.

“Die boorgate wat gemaak word, dien ‘n dubbele doel. Dit help om die posisie van die vermiste mense te probeer bepaal en kan gebruik word om basiese lewensbenodighede aan hulle te gee indien hulle gevind word.

“Hoewel MRS oor gevorderde robotika en hommeltuie beskik, is dit moeilik om te gebruik weens tonnelblokkasies wat deur die modderstorting veroorsaak is. Nietemin is alle moontlike toerusting tans beskikbaar om kontak met die werknemers te bewerkstellig.

“Daar is ten alle tye twee of meer Proto-spanne op die toneel wat deurlopend gemoniteer word vir veiligheid en uitputting.”

Fourie sê alle stappe word in noue samewerking met die mynbestuur en die departement van minerale bronne en petroleum gedoen om menselewens te probeer red.

Ekapa Minerals sê hulle sal verdere nuus verskaf sodra geverifieerde inligting beskikbaar is, maar het versoek dat die privaatheid van die geaffekteerde families respekteer word.

LEES OOK: Vyf vermis ná modderstorting by Kimberley-myn

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article