Die dag toe ons die eerste keer gesels het, was sy totaal en al oorweldig.
Die dagboek-lysie was net te lank.
Sy was absoluut paniekerig oor alles wat gedoen moet word in die tydjie wat daar is.
Sy het dit mooi beskryf: “Ek is twee dae agter met my lewe.”
Dit was vir my kosbaar.
Sy het geweet wat sy alles moet doen, maar hoe en wanneer was vir haar ’n uitdaging.
Die afgelope tyd was daar net te veel onverwagse dinge wat dringender aandag gevra het, en die hantering van die dinge in haar lewe het agter geraak.
So erg dat sy, by wyse van spreke, twee dae agter gevoel het.
Vanuit die situasie waarin sy was, het dit net vir haar onmoontlik gelyk om ooit in te haal.
Ek en sy het toe so ’n bietjie gaan sit en dink; ’n bietjie beplanning gaan doen. Sy moes die agter wees op haar eie lewe inhaal. Daarom moes ons saam dink en praat daaroor.
Wanneer jy agter raak met jou lewe, onthou die volgende:
- Moenie oorweldig raak nie.
- Angs en benoudheid handel niks af nie.
- Begin met goeie beplanning.
- Doen wat jy kan en handel af wat jy kan.
- Prioritiseer.
- Aanvaar jy kan nie alles gelyk doen nie – jy kan ook nie meer doen as wat moontlik is nie.
- Deurdink, doen en handel af.
- Oppas vir vat en los; dit help niks.
- Bestuur jou program, moenie jou program toelaat om jou te bestuur nie.
Hou kop, beplan, werk – haal rustig in.




