Ons sit as ‘n groep volwassenes om ‘n tafel, elkeen met ‘n heerlike beker koffie en die tema raak baie vinnig baie dieper as wat enige een van ons gedink of beplan het.
Hierdie diep gesprek het ek nie nou sien kom nie. Van ‘n ligte geskerts na ‘n baie diep, teer, onderwerp. Hoogmoed teenoor nederigheid. Die inhoud van die gesprek vind ek so ‘n bietjie ontstellend.
Ek kom agter dat mense gou verward raak oor die balans tussen waarheid en leuen, tussen liefde en liefdeloos.
‘n Mens kan amper sê jy moet baie mooi definieer en analiseer voor jy jou in hierdie soort gesprek inlaat.
Wat wel nie moeilik is om agter te kom nie is hoe nederigheid mense aantrek en hoogmoed mense afstoot.
Ek besef net weer die waarde dat ‘n mens versigtig moet wees om mense aan te spreek met ‘n ek-weet-alles-houding of ek-is-reg-en julle-verkeerd of gee-my-net-‘n-kans-en ek vee met jou die vloer.
Mense is nogal nie sensitief om van mekaar te verskil nie, maar oor die algemeen is daar min empatie en min geduld met mense wat dink hulle weet beter. Hoogmoed is gewoon iets wat mense irriteer en laat reageer.
Interessant in hierdie spesifieke gesprek is hoe nederigheid mense juis aantrek. Die voorbeelde wat na vore kom raak my hart.
Ek besef maar weer dat ‘n mens versigtig moet wees om nie aanstoot te gee nie. Dit is nie altyd maklik nie, maar ‘n mens moet maar so ‘n bietjie daarin groei.
In kort bly die vraag seker altyd wat het jy wat ander nie ontvang het nie en wie is jy om jou oor ‘n ander aan te stel.
Natuurlik moet ons mekaar vermaan, reghelp, begelei – die vraag bly of jy dit op so ‘n wyse doen dat jy jou eie gesindheid van nederigheid daarmee openbaar. Vir party mense is dit sleg om te hoor: Jy is rêrig nie beter as ‘n ander nie.



