Ousus en Skoonseun het spesiaal ’n afspraak gemaak om te kom kuier.
Natuurlik is dit altyd lekker wanneer hulle kom kuier, maar hierdie keer was dit ekstra lekker.
Hulle deel die vooruitsig dat Laatlam-kleinsus nie meer vir lank die jongste in die familie gaan wees nie, maar dat almal bederf gaan word met ’n nuwe babatjie, ’n nuwe jongeling.
Skielik is die vooruitsig daar dat die familie in ’n volgende geslag inbeweeg.
Dit is ’n wonderlike gedagte.
Laatlam-kleinsus, wat glad nie meer so jonk is nie, begin sommer dadelik vir die nuweling ’n skilpad hekel.
Die gedagte aan tannie-wees fassineer haar.
Middelsus is opgewonde, want terwyl sy haar troue reël, kan sy inwerk dat op die gastelys ook ’n gas sal wees waarop sy nie vroeër gereken het nie.
En Ouboet vat sy skielike nuwe rol as oom wat voorlê baie ernstig op en begin met ’n duisend vermanings.
Maar Ousus en Skoonseun, hulle is net gelukkig.
Hulle wag.
En ons wag saam.
En ek dink aan die wonder van hoe so ’n vooruitsig mooi is.
Hoe die groei van lewe hoop dra.
En ek weet dit is nie in die hande van ’n mens nie, maar is dankbaar vir so ’n vooruitsig.
Ek besef ook weer die verantwoordelikheid dat ons nie moet hoop en krag verloor in ons tyd nie, ’n volgende geslag lê voor.
Ons moet vir die geslagte wat kom, bou en nalaat.
Ek weet daar lê nog 28 lang weke voor, maar skielik lyk môre anders as vandag.


