Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Die afgelope Paasnaweek was luilekker in die meeste huise.

Natuurlik is daar altyd mense wat aan diens is en diegene wat nooddienste moet verrig. So ook mense wat moet werk.

Maar daar kom tye dat daar in die meeste huise ‘n stilte kom.

Dit voel anders as ‘n Desembervakansie. Dit is so ‘n ekstra spesiale stop in die middel van die week.

Op die plaas het ons soms gesê selfs die natuur weet wanneer dit Sondag is, want dan het die diere ekstra lui gelê; soms het dit gelyk of die windpomp nie eens wil draai nie.

Die afgelope naweek het ek daaraan gedink. Die rede daarvoor is juis omdat die pas van die lewe vinnig is. Baie dinge gebeur en agendas is lank.

Dan is dit soms nodig om so ‘n bietjie rustig te raak. Goed te rus. Van wat gedoen is en van wat gedoen moet word.

Natuurlik is daar nie voorskrifte vir daardie rus nie.

Party sal gaan stap, ander sal braai, ander sal hulle toemaak tussen boeke en ander sal hulle besig hou met ‘n stokperdjie of twee.

Wat ook al – die lewe roep ons almal soms tot rus. Tot rustig raak.

Ons moet leer om te luister.

Ons leef in ‘n tyd dat mense se glase te vol word, hul spanning is te veel en die tempo is te vinnig.

Ons bekommer ons dikwels oor dinge wat nooit gebeur nie en ons is dikwels besig met dinge wat eintlik geen waarde tot ons menswees toevoeg nie.

Die balans is sekerlik belangrik: Doen wat jy moet doen, werk met ywer en werk getrou, maar rus as jy moet rus.

Heel dikwels hoef liggaam en siel net ‘n bietjie asem te haal, en kragte te herwin, om te kan voortgaan met dit waarmee jy besig is.

Daarom, wanneer die kans daar is, rus. Rus goed. Rus berekend. Rus doelgerig.

Wie wys is, werk en rus gebalanseerd.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article