Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Die afgelope week het my oor ver paaie heen gelei. Baie ver en baie kilometers. Baie dinktyd.

Soms is dit goed om nie bang te wees vir ‘n mens se eie gedagtes nie – ‘n bietjie die verte in te tuur en te oordink.

Waar jy is, waar jy was, waarheen jy op pad is.

Soms is dit goed om in jou gedagtes uit te kom by die bitter wat in jou lewe is. Soms is dit goed om die pad vorentoe te oordink.

Die wonder van die afgelope week se lang paaie het my by ‘n paar logiese, vanselfsprekende gedagtes gebring.

In die eerste plek: ons het regtig ‘n mooi land.

Die tweede saak wat my opgeval het is hoe mooi opreg die mense van ons land is. Van die petroljoggies wat keer op keer die tenk vol maak, tot die mense by die padversperrings wat jou tien minute op ‘n slag laat wag.

Ook die mense wat hul daaglikse taak vervul met vreugde en ‘n lag.

Ek besef maar net weer – mense is orals dieselfde. Jy kry die wat vriendelik van geaardheid is en wie se glimlag jou dag maak, en dan kry jy die mens vir wie alles moeite is en sleg is. ‘n Mooi land en mooi mense.

Wat dan nog? Die mooi van ‘n dag. Die tyd waarin jy leef is mooi. Elke mens leef in ‘n bepaalde tyd.

Die mooi van jou tyd kan by jou verbygaan as jy behep raak met die uitdagings van elke dag.

Geniet die mooi van mense, die land en die tyd waarin jy lewe. Kom dan by jouself ook uit. Oordink jou lewe eerlik en opreg.

Wanneer jy langs ver paaie gelei word en jy weet die toekoms onbekend is, doen moeite om die bitter in jou lewe te oordink. Bou vorentoe. Altyd vorentoe.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article