Wanneer ons hom en die tannie na ’n nuwe tuiste help trek, is hy reeds 88.

’n Gevorderde leeftyd.

Met die verhuising gaan dit maar vinnig en is daar min tyd vir gesels.

Op ’n stadium toe ons ’n rukkie stop en melktert eet, vra ek hom ’n vraag wat hy so opreg, moedeloos dog hoopvol, antwoord: “Ja, jy het jou probleme en ek myne. Só sal dit maar altyd wees.”

Dit raak my.

Hoe waar is hierdie sin uit sy bejaarde-sukkelende-moeë hart nie.

Ons almal het maar ons probleme.

Miskien is dit een van die groot gelykmakers van hierdie ou wêreld waarin ons leef.

Party is siek, ander is arm, party is in twis en ander dra swaar aan verlies.

Een word maklik oud, ’n ander met moeite.

Een se yskaste is oorvol, ’n ander bekommer oor vandag se brood.

Een se werk is te veel, ’n ander wens hy het werk gehad.

Só kan ons aangaan.

Dalk moet ons maar aanleer om so ’n bietjie meer empatie te hê met die uitdagings van ’n ander.

Hoe sal ons weet waaraan ’n ander alles dra.

Miskien moet ons vra: “Hoe kan ek jou help,” in plaas daarvan om net op ons eie voort te stoom.

Net miskien moet ons meer geduld met mekaar hê en meer opreg wees.

Immers, jy het jou probleme en ek het myne.

So laat ons mekaar begelei.

Dit is mos waar: Gedeelde smart is halwe smart, en gedeelde vreugde is dubbele vreugde.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article