Die plaas Twyfelhoek se hek.
Die pad na Twyfelhoek. FOTO: Verskaf

Onlangs het ons vanaf die werksplek ‘n ontmoetingsgesprek met ‘n gemeente wat besonder aktief is en baie hard werk in hul gemeenskap.

Hul manier van dink en doen en ‘n verandering in hul leefwêreld bring, staan gewoon uit.

Ek leer maar net weer hier by hulle dat dit nie net die groot dinge is wat die wêreld verander nie.

Hul sukses skryf hulle toe aan die feit dat hulle, so eenvoudig soos dit klink, fokus op wie hulle is en wie hulle in hierdie wêreld wil wees.

Deel daarvan is dat hulle as gemeente saam beskuit eet.

Elke Sondag. Tot 60kg beskuit op ‘n Sondag. Mense staan en drink koffie en eet beskuit.

Hulle eet en kuier, gesels en op so ‘n manier vorm hulle reeds mekaar en het ‘n impak op mekaar se lief en leed.

Ek onthou toe ons grootgeword het, was dit ook so. Sondag vir Sondag is daar beskuit aangery. Almal in die gemeente het ‘n ou beskuitjie by die koffie gekry.

Daardie klein gesellige gebaar is soveel meer as net ietsie eet saam met die koffie.

Dit getuig so bietjie van hartlikheid, ‘n warm atmosfeer, van omgee, van deel.

Hierdie gemeente se vertel van hoe heerlik hulle saam beskuit eet het my dadelik laat terugdink en laat teruggryp aan die mooi en die warm onthou wat ek daarmee vereenselwig.

So het daardie beskuitjie ‘n verskil gemaak wanneer iemand soms bietjie troos nodig het. Soms is die ergste honger gestil net om tot by ete te kom. Soms is dit sommer net ‘n lekker gewoonte om daardie beskuit in die koffie te doop.

So is beskuit in die Anglo-Boeroorlog saam op die perd se rug die veld in en jare daarna is dit vir kind na kind ingepak koshuis toe.

Dikwels soek ons soveel groot en belangrike dinge om die wêreld te verander.

Wat van ietsie kleins, iets opreg, iets warm – kry vir jou ‘n stukkie beskuit.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article