Met drie dogters in die huis leer ‘n mens nogal baie van netbal en die reëls daarvan en die moets en moenies.
Een van die eerste dinge wat ‘n mens leer wanneer hulle nog skaars hoër as die bal is en die doelpaal baie ver en hoog is, is hoe belangrik dit is om voetfoute te vermy.
‘n Mens maak dit maklik. Jy leer gou dat ‘n voetfout in netbal die ritme van ‘n wedstryd beïnvloed. Dit kan nogal ongemaklik wees en die spel verander.
Die wonder van netbal, selfs wanneer voetfoute gemaak word, is dat die spel voortgaan en dat dit nie die wedstryd stop nie.
Die tweede ding wat ek geleer het daar langs die netbalbaan is jy kan so goed wees soos jy wil, so ingeoefen en so begaafd as moontlik, maar iewers maak jy wel ‘n voetfout.
Die derde ding wat ek geleer het is dat ongeag voetfoute, kan jy steeds as wenner van die baan stap.
Die vierde les wat ek kon leer oor voetfoute is dat dit nou nie juis help om die ander in die span te verwyt nie. Gaan gewoon voort.
Hierdie vier lesse is nogal heel eenvoudig, en heel maklik om toe te pas op die lewenspad waarmee ons almal besig is: Ongeag foute, die lewe gaan voort.
Dit maak nie saak wie jy is nie, iewers gaan jy foute maak. Foute definieer jou nie, jy kan steeds bo uitkom, ongeag foute.
Verwyte gaan nou nie juis help as die voetfoute daar is nie. Gaan gewoon voort. Soms wil ons te lank stilstaan by ons foute.
Voetfoute gebeur, maak vrede daarmee en gaan voort.
Die laaste ding wat ek langs die netbalbaan geleer het by daardie dogters is dat voetfoute nie lekker is om te maak nie. Ons mag dit ook maar erken. Foute gebeur, die gevolge is sleg, die lewe gaan voort, moenie gaan lê nie. Jy kan wen, ongeag jou voetfoute.


