Oor feetjiesirkels – die kaal gespasieerde kolle wat in dele van die Noord-Kaap, maar veral in Namibië, voorkom – is al dekades lank bespiegel.
Die feetjiesirkels word ook in die suide van Angola gevind, skryf Francois Haasbroek in Weg, Oktober 2016.
Haasbroek skryf die sirkels kom net op sekere plekke in die strook vanaf Angola tot in die Noord-Kaap voor, selde verder as 160 km van die see af, en net in areas wat ’n jaarlikse reënval van tussen 50 mm en 100 mm ’n jaar het.
Die sirkels is vanaf twee tot 15 meter breed en verdwyn weer ná 30 tot 60 jaar. Dit het ’n welige band gras rondom die buitenste rand, en niks groei binne dit nie.
Rasaad Adams berig op Netwerk24 dat die Universiteit van Pretoria (UP) ’n hipotese ontwikkel het oor die ontstaan van die feetjiesirkels.
Oor wat presies die kolle veroorsaak, kon nog nie verklaar word nie.
Wetenskaplikes aan die UP ondersoek nou die hipotese dat mikroörganismes die ontbrekende stuk van hierdie fassinerende legkaart kan wees.
Prof. Don Cowan, direkteur van die UP se Sentrum vir Mikrobiese Ekologie en Genomika, en sy span sê in Afrika is feetjiesirkels uniek aan Namibië en Suid-Angola, maar daar is soortgelyke verskynsels in Australië se woestynagtige gebiede.
Cowan glo dat die verskynsel in Australië en in Namibië nie noodwendig presies dieselfde oorsake het nie.
Hy en sy span se hipotese is dat plante binne-in die sirkels doodgaan weens fitopatogenese – die teenwoordigheid van patogeniese mikroörganismes.
Die feetjiesirkels word dus veroorsaak deur ’n groeiende mikrobiese kultuur wat sirkelvormig is.
“Om ons teorie te toets, het ons omgewing-DNS en moderne metagenomika gebruik om die bakteriese en swamdiversiteit van grond in die feetjiesirkels te ondersoek en dit met grond buite die sirkels te vergelyk,” sê Cowan.
“Ons het beduidende verskille gevind, maar dit is nie ’n oorsaaklike bewys nie.”
Hy sê dit is moeilik om tussen oorsaak en gevolg te onderskei.
Interessant genoeg is sommige van die unieke swamspesies wat net in die grond binne die feetjiesirkels voorkom, bekende plantpatogene, maar dit is ook nie ’n finale bewys dat hulle die oorsaak van die verskynsel is nie, sê Cowan.
Hy sê die span moet kan bewys dat hierdie swamme die plantspesies wel besmet en doodmaak.
Volgens Cowan het feetjiesirkels ’n lewensduur van 40 jaar.
“Wat interessant is, is dat niemand nog ’n ‘pasgebore’ of baie klein feetjiesirkel aangemeld het nie.
“Ek het self ook nog nooit ’n kleintjie gesien nie. Dalk is hulle nie in daardie stadium van hul lewensduur sigbaar nie.”
Dave Pepler, ekoloog en omgewingskenner, het by navraag die verskynsel as die “aangrypendste landskappe in Afrika” beskryf.
Hy het in die vroeë 2000’s in een van die sirkels geslaap, sê Pepler.
“Wetenskaplikes het gepraat van vibrasies deur mikroörganismes en termiete. Ek het in een van hulle gaan slaap om te voel of ek hierdie vibrasies deur my liggaam kan ervaar. Ek is persoonlik baie gefassineer deur hierdie verskynsel,” sê hy.
“Die sirkels is so perfek. Dis byna asof iemand dit met ’n passer uitgesny het.”
Pepler sê hy is baie opgewonde oor die UP se hipotese en bestempel dit as “baie na aan die waarheid”.
“Kyk, in dié stadium is dit bloot ’n hipotese, so dit moet nog bewys word. Dit is wel baie nader aan die waarheid as wat ons ná jare se navorsing kon kom.”
Daar is beslis ’n korrelasie tussen wat mense in jou tuin sou aanskou weens ondergrondse aktiwiteite en wat hier gebeur, sê hy.
“Gaan kyk ’n bietjie na die sirkeltjies wat deur iets soos sampioene gevorm word – weens wat onder die grond gebeur. Hierdie navorsing klink vir my baie interessant en sal nou deur die wetenskaplikes getoets moet word. Opvolgnavorsing sal gedoen moet word om die hipotese te bewys.”





