Al die pad van Kraaifontein in die Wes-Kaap het Michael Wynne geryloop om ‘n 16-jarige kankerlyer in ‘n hospitaal in Kimberley te ontmoet en te bemoedig.
Michael, by wie prostaat- en kolonkanker in remissie is, het “met genade van Bo” al meer as 80 keer sy “stap-en-ry”-togte aangepak – dit ongeag die harttoestand wat verlede jaar by hom ná ‘n hartaanval diagnoseer is.
“Ek het besef die nood is groot met rare siektes,” vertel hy, en dit sy doelwit gemaak om met liefde ‘n boodskap van hoop en ‘n pakkie aan die een wie hy ontmoet, te gee.
Sy stap-en-ry-tog na die 16-jarige Aiden Mowers was nommer 49 – vandat hy dit begin tel het. Dit was ook sy eerste tog ná sy hartaanval in Maart 2024.
Aiden is ‘n gr.11-leerling aan die Hoërskool S.C. Kearns in Louisvale-weg in Upington, en is in September verlede jaar met testikulêre kanker gediagnoseer.
Hy en sy ouers, Jacques en Veronica Mowers, is in ‘n siklus van ses weke vir ‘n week lank – van Maandag tot Vrydag – in Kimberley waar hy chemoterapie by die Lenmed-hospitaal ondergaan. Tussendeur ontvang hy onderskragingsdosisse in Upington.
Tydens sy ontmoeting met Michael het Aiden sy derde week van chemoterapie ondergaan.
Begin met ‘kankerlopies’ ná dubbele skoknuus
Michael het met sy “kankerlopies” begin ná die dubbele skoknuus van die diagnose van prostaatkanker vroeg in 2018 en kolonkanker later die jaar. Op 14 Februarie van daardie jaar het hy ‘n prostaat-operasie ondergaan, gevolg deur ‘n lang herstelperiode. Op 15 November van dieselfde jaar is ‘n deel van sy kolon tydens ‘n volgende operasie verwyder.
Hy het so gou moontlik hierna sy togte aangepak, en ook tydens die Covid-pandemie heen en weer na verskillende provinsies gestap. Hy stap meestal na die Noord- en Oos-Kaap. Sy storie van hoop het reeds die TV-nuus gehaal, tientalle radio-stasies, verskeie tydskrifte en meer as 30 koerante. Sy getuienis word as episode 16 van die TV-program Koortjies op kykNet uitgesaai.
Op 1 Maart verlede jaar is hy weer in ‘n hospitaal opgeneem ná ‘n hartaanval, en ná meer as ‘n week in verskillende hospitale, is bevind dat sy hartspiere verhard het en dat niks daaraan gedoen kan word nie. Sedertdien het hy aangesterk en op 12 Maart sy tog na Aiden aangepak.
Tydens so ‘n tog, staan hy nie stil nie. Hy stap totdat iemand hom oplaai, en sou die persoon geld vir die saamrygeleentheid vra, betaal hy dit.
“Ek het al in koue, hitte, reën, stofstorms en deur ‘n sprinkaanplaag gestap.”

Hoewel die Mowers-gesin aan ‘n siekefonds behoort, word nie alle mediese uitgawes betaal nie en kan die voordele vir die jaar opgebruik word. Die gereelde ritte tussen Upington en Kimberley is ‘n groot uitgawe, en boonop moet hulle van ‘n familielid se voertuig gebruik maak. Hoewel goedkoper verblyf vir hulle in ‘n gastehuis op die perseel van die Korrektiewe Dienste beskikbaar is, bly dit steeds ‘n uitgawe.
Die kankerverspreiding om Aiden se bekkengordel het sy mobiliteit aangetas, en om sy beweeglikheid te behou, is ‘n loopraam aangeskaf . ‘n Rolstoel is tot hul beskikking by die hospitaal, maar by die huis gaan dit soms moeilik daarsonder.
Ambrocious Steven Sephapo, ‘n familielid wat in Kimberley woon, bedank elkeen wat die gesin bystaan en sê hulle kry ongelooflik ondersteuning van die gemeenskap in Upington, en selfs van sy kollegas by Korrektiewe Dienste. Jacques is ‘n wetstoepasser by die Dawid Kruiper-munisipaliteit.
Wanneer Aiden terugkeer skool toe, is nie seker nie. Weens sy verswakte immuniteitstelsel is hy baie vatbaar vir siektes, en sy beperkte mobiliteit kan ‘n uitdaging op die skoolterrein wees.
“Ek hoop en vertrou daar sal Samaritane op Aiden se pad kom,” sê Michael. “Geld het ek nie, maar ek kan ‘n verskil maak met ‘n praatjie, ‘n handdruk en ‘n klein gebedjie.”
Om die gesin by te staan, skakel 078-921-6506 of 078-012-9600; en om meer van Michael se uitreikingsveldtogte uit te vind, skakel 076-549-6237.




