‘n Lewendige hond wat aan sy nek opgehang is tot hy dood is, ‘n lewendige hond wat in ‘n gat geplaas is met ‘n groot klip bo-op die hond, en ‘n hond wat geslag is en sy vleis na bewering as wildsvleis verkoop is, is van die ontstellende voorvalle wat die afgelope tyd in die Noord-Kaap aangemeld is.
Alet Steyn van die Kimberley DBV sê hulle is bewus van die hond wat in Mei in Barkly-Wes opgehang is. Foto’s van dié hond wat die vorige dag nog springlewendig rondloop, en foto’s van die hond wat die volgende dag met ‘n tou om sy nek aan ‘n boom hang, is in die DBV en in NoordkaapBulletin se besit.
In nog ‘n foto word gesien hoe ‘n persoon die dooie hond met ‘n kruiwa wegry.

Steyn sê dié saak van dieremishandeling word deur die DBV-inspekteurs ondersoek, en verdere kommentaar sal gelewer word sodra die ondersoek afgehandel is.
Vrae word ook gevra oor waarom iemand foto’s van so ‘n voorval neem, maar niks doen om die hond te help nie.
Hond lewendig begrawe
In nog ‘n voorval op waarskynlik 18 Mei, is ‘n lewendige hond in Keimoes gevind wat in ‘n gat geplaas is en met ‘n groot klip bedek is.
Christene Maritz, lid van Upington FURever Rescue, Foster and Adoption, sê hulle het ‘n video vanaf gemeenskapslede ontvang waar hulle die swaar klip van die hond met pikke wegtrek, en die hond uit die gat haal. Dié hond, wie hulle Gloria gedoop het, is vinnig by die Oryx-dierekliniek vir behandeling en waarneming uitgebring. Gloria is later in FURever, ‘n nie-winsgewende organisasie, se sorg geplaas.

Daar is bevind dat sy breinskade opgedoen het, en in die eerste dae ná haar redding kon sy slegs voeding inneem wat sy kon lek. Dinsdag het Maritz vertel dat Gloria net die vorige dag deur ‘n weldoener aangeneem is.
Sy sê geen verdagtes is nog in verband met dié voorval van dieremishandeling aangekeer nie.
Pitbull geslag, vleis glo verkoop
In nog ‘n voorval, wat wyd op sosiale media gedeel is, word gewys hoe ‘n pitbull in Rosedale in Upington geslag word. Op die video is dit duidelik sigbaar dat sy keel afgesny is.
Maritz sê volgens gerugte was dié hond glo reeds dood en is toe geslag en die vleis as wildsvleis verkoop.
Kolonel Cherelle Ehlers, woordvoerder van die polisie, sê voorlopige ondersoek dui daarop dat die hond glo op 18 Mei dood is, na bewering weens ‘n siekte. Sy sê die voorlopige ondersoek dui aan dat die eienaar die dooie hond aan ‘n individu gegee het om te begrawe, maar die karkas is glo aan ‘n derde individu oorhandig wat dit geslag en die vleis verkoop het.
Die polisie in Rosedale het ‘n saak met betrekking tot oortredings van die Wet op die Veiligheid van Vleis, Wet 40 van 2000, registreer, en die ondersoek is aan die gang.
Maritz sê uit FURever se werksaamhede kom dit voor asof die pitbull-ras die meeste van alle hondrasse gesteel en mee gehandel word. Behalwe dat dié ras vir hondegevegte gebruik word, glo mense dat dié honde misdadigers en dwelmverslaafdes uit hul erwe sal hou. Tot die honde se uiterse frustrasie word hulle in klein ruimtes aangehou, en in een geval is vier pitbulls in ‘n erf gevind – elkeen aan ‘n hoekpaal met ‘n ketting vasgemaak.
“Dit is hartverskeurend hoe honde en katte halfdood weggegooi en behandel word,” sê sy.
‘Hospitaalkatte’ gered uit haglike omstandighede
Ongeveer 40 katte – baie ernstig siek en sommige gebreklik weens inteling – is die afgelope maande deur FURever by die Gordonia-hospitaal in Upington waargeneem.
Maritz vertel dat dit vroeg in April onder hulle aandag gekom dat daar ‘n ernstige probleem op die hospitaalterrein bestaan met katte wat nie gesteriliseer is nie, wat siek is, en aanteel. Hoewel dié katte glo gereeld deur ‘n weldoener of weldoeners gevoer is, het die uitgawe hieraan onbekostigbaar geraak.
Boonop was dit moeilik om die siek katte te vang om hetsy te behandel, of waar nodig te laat uitsit. Op die hospitaalterrein is ook baie wegkruipplek vir dié katte, en met FURever se opname van die situasie het hulle op talle katgeraamtes afgekom.

“FURever sal nooit ‘n dier wat met behandeling kan herstel, laat slaapmaak nie. Die wat slaapgemaak is het FeLV en of FIV onder lede gehad. Sommige het selfs gebreklike ledemate gehad. Hierdie siekte word reeds in die baarmoeder oorgedra,” skryf die organisasie in ‘n inligtingstuk wat hulle versprei het.
“FURever het aanvanklik verkies om die hele proses privaat te hou, aangesien dit vir niemand maklik is om dierelyding van hierdie aard te aanskou nie. Maar na aanleiding van kommentaar en aannames deur persone – wat nie ten volle bewus is van die situasie of die omvang van die rescuewerk oor die afgelope weke nie – voel ons dit is nodig om die publiek in te lig oor die werk wat wel gedoen is, asook om bewyse te lewer dat die katte nie bloot uitgesit is nie.”
Maritz doen ‘n beroep op lede van die publiek om nié katte op die hospitaalterrein “te dump” nie.
- FeLV is “Feline leukemia virus” en FIV is “Feline immunodeficiency virus“.




You must be logged in to post a comment.