Die Sol Plaatje-munisipaliteit se voortgesette versuim om die wanfunksionele Homevale-rioolsuiweringsaanleg in Kimberley te bestuur, het in ’n nasionale infrastruktuur-krisis ontaard. Transnet is tot ’n reuse-ingenieursprojek gedwing om sy spoorlyn tussen Hotazel en Port Elizabeth by Kamfersdam bokant die rioolwater te lig.
Rioolwater stroom steeds in megaliters per dag oor die spoorlyn vanaf die rioolaanleg na Kamfersdam. ʼn Grondeienaar het die munisipaliteit al hof toe gesleep om hulle te dwing om die volume afvalwater te verlaag en die watergehalte te verbeter.
Herstelwerk het reeds weke gelede aan die spoorlyn begin wat reeds meer as ʼn jaar lank gesluit is. Dit gaan op die diepste plek met vyf meter oor ‘n afstand van 2,5 kilometer gelig word, volgens ʼn ingeligte. Die oorhoofse kraglyne sal ook gelig moet word.
Verlore inkomste van miljarde
Volgens dokumente van Transnet Rail Infrastructure Manager (TRIM) het die ontwrigting van die mangaan-uitvoerkorridor die afgelope jare reeds meer as R5 miljard aan verlore inkomste gekos.
Transnet Freight Rail (TFR) het in 2024 gesê hulle verloor sowat R11,1 miljoen per week weens die gebruik van ’n ompad wat twee uur by elke trein se reistyd voeg. Voort het hulle ook pompe van R2 miljoen bewillig om langs die N12-roete te plaas om water weg te pomp en R4,5 miljoen om pype van die Homevale-aanleg na die Vaalrivier te herstel.
LEES OOK: Sol Plaatje ‘onverskillig, nalatig’ met rioolbesoedeling van Kamfersdam
Regter Almé Stanton het verlede jaar in die Hooggeregshof in Kimberley die munisipaliteit se hantering van die krisis as “verstommend”, “onverskillig” en “nalatig” bestempel. Die hof het bevind dat die munisipaliteit sy grondwetlike verpligtinge versuim het om ’n veilige omgewing te verseker.
Hoewel die munisipaliteit beweer dat ’n gebrek aan geld die probleem is, het die hof daarop gewys dat die nasionale tesourie byna R500 miljoen vir infrastruktuur-instandhouding vir die 2024-’25-boekjaar beskikbaar gestel het.
Die munisipaliteit is onder ’n strukturele interdik geplaas en moet elke vier maande aan die hof verslag doen oor hul vordering om die rioolvlakke te verlaag.
Kamfersdam, wat eens die enigste broeikolonie van kleinflaminke in Suid-Afrika gehuisves het, is deur die munisipaliteit in ’n “rioolput” verander, sê BirdLife South Africa. Die besoedeling het reeds gelei tot die dood van meer as 130 voëls aan die einde van 2024, en die ikoniese flaminke het die terrein grootliks verlaat.
Spoorlyn deur water en riool verswak
Uit die vyfjaar-investeringplan vir TRIM word die Orecor-plan as die primêre korridor vir mangaan-uitvoer beskryf. Vir die tydperk tussen 2026 en 2030 word ’n belegging van R4,128 miljard voorsien.
Vir formasie-rehabilitasie, wat kritiek is vir gebiede waar die spoorlyn deur water of riool verswak word, word R160 miljoen begroot. Die rehabilitasie van brûe (verhoging of versterking) van strukture bo vloedvlakke, behels R150 miljoen. Sowat R60 miljoen is begroot vir dreinering en vloedwaterduikweë.
LEES OOK: Munisipaliteit verplig om plan vir afvalwater op wildsplaas voor te lê
Die werk by Kamfersdam is noodsaaklik om Transnet se nasionale doelwitte te bereik, want hulle wil ‘n totale netwerkkapasiteit van 250 miljoen ton bereik. Vir mangaan is die teiken om teen jaar vyf van die plan ‘n volume van 12,55 miljoen ton per jaar te handhaaf, met 41 beskikbare gleuwe per week. Sonder die herstelwerk by Kamfersdam is hierdie teikens in gedrang weens die huidige spoedbeperkings en ompaaie.
‘Verkies samewerking’
Transnet sê in sy antwoord op NoordkaapBulletin se vrae hy verkies om die krisis in samewerking met die munisipaliteit op te los eerder as deur litigasie.
Hulle is bewus van die voortdurende uitdagings wat die spoorlyn langs Kamfersdam in Kimberley raak, waar periodieke oorstroming waargeneem is. Hierdie spoorlyn vorm ‘n kernonderdeel van die mangaan-uitvoerkorridor, en enige ontwrigting het ‘n direkte impak op die doeltreffendheid van vragbedrywighede en die breër ekonomiese aktiwiteite wat deur hierdie roete ondersteun word.
“Die kommer oor oorstromings in hierdie gebied het oor verskeie jare ontwikkel en word beïnvloed deur verskeie omgewings- en infrastruktuurfaktore. Ons is in gesprek met die Sol Plaatje-munisipaliteit en ander toepaslike belanghebbendes om die oorsake beter te verstaan en om saam te werk aan toepaslike en volhoubare ingrypings. Hierdie gesprekke fokus op die identifisering van tegniese oplossings, insluitend verbeterings aan plaaslike afvalwaterinfrastruktuur en maatreëls om oorloop in die dam te verminder.”
Die betrokke spoorlyn is van groot belang vir die vervoer van mangaan, en die onderbroke sluiting daarvan om veiligheidsredes het operasionele kontinuïteit beïnvloed. Transnet bestuur die situasie aktief deur moniteringsmaatreëls te implementeer, veilige bedrywighede te verseker en alternatiewe reëlings te ondersoek waar moontlik om ontwrigtings te beperk.
Transnet bly daartoe verbind om konstruktief saam met alle belanghebbendes te werk om die integriteit van die spoorwegnetwerk in die Kimberley-omgewing te beskerm.
“Ons prioriteit is dat langtermyn, veerkragtige oplossings ingestel word om die betroubaarheid van die strategiese korridor te handhaaf en om die ekonomiese belange van die streek te ondersteun.”





