Kyk ‘n mens na die wêreldkaart, sien ‘n mens lande waarvan jy nog nooit gehoor het nie.
Baie mense droom oor dele in ons eie land wat hulle graag sal wil besoek.
Indien hierdie mense se drome wel bewaarheid word, is die waarskynlikheid groot dat hulle nooit die geleentheid sal kry om buite ons land se grense besoek af te lê nie.
Die wêreld voel vir ons ongelooflik groot.
Terselfdertyd is die wêreld klein.
Daar word spottend gesê dat die Noord-Kaap een miljoen inwoners het en dat baie van hulle familie van mekaar is.
Ons loop mense op onverwagte plekke raak.
In baie gevalle is dit mense wat iemand ken wat ons ken of selfs op ‘n manier familie van ons is.
Soms kruis mense ons pad op verskeie maniere, maar op verskillende tye en plekke.
‘n Paar jaar gelede verwys iemand ‘n kliënt na my toe om hom met iets spesifiek te help.
Ons kommunikeer slegs een keer per jaar wanneer hierdie spesifieke werk vir hom gedoen moet word.
My man stap onlangs by die huis in en kondig aan dat hy uiteindelik iemand gekry het om die boompies in ons tuin te snoei.
“Hy gaan vinnig môre-oggend hier stop om ‘n kwotasie vir ons te gee.”
Die volgende oggend ontmoet ek die vreemdeling.
Hy som die werk op wat gedoen moet word.
Hy is baie vriendelik. ‘n Innemende geaardheid en baie respekvol.
Die volgende oggend stuur hy die kwotasie vir my man.
Sy naam klink vir my bekend, maar ek weet glad nie waar dit inpas nie.
“Wag, ek kyk gou iets by my kontakte op my selfoon,” sê ek.
Ek glimlag.
“Hierdie man is ‘n kliënt. Ek het sy naam en van vanaf sy identiteitsdokument onthou, maar nie sy gesig nie.”
Die wêreld is groot – totdat ons orals mense raakloop wat op ‘n manier in ons wêreld inpas.




