“Sjoe,” sê sy. “Die mense hier by julle is baie vriendelik. Vreemdelinge groet my sommer in die winkelsentrum.”
Die Noord-Kaap is verreweg die provinsie met die vriendelikste inwoners.
Dit is nie ‘n enorme krisis wanneer jy in die Noord-Kaap verdwaal of op ‘n ander manier hulp benodig nie. Mense is meer as bereid om te help. Nie die soort hulp wat met sleepvoete en ‘n lang gesig gepaard gaan nie.
“Hou jou vriendelikheid goedkoop, maar jou vriendskap duur,” het C.J. Langenhoven gesê. In hierdie groot provinsie is vriendelikheid goedkoop, sowel as volop.
Afhangende van waar jy jouself in die Noord-Kaap bevind, is daar min water. Min bome. Min voer vir vee. Maar vriendelikheid is volop.
Hierdie vriendelikheid besit ‘n paar wonderlike eienskappe. Mense stel byvoorbeeld nie voorwaardes voordat hulle met jou vriendelik is nie. Jy hoef nie ‘n sekere geslag of ras te wees of ‘n spesifieke taal te praat nie. Jy hoef nie eens hier grootgeword het of hier te woon nie. Jy kan net jouself wees.
Mense verwag nie iets in ruil vir hul vriendelikheid nie. So in die verbygaan kry jy ‘n vriendelike gebaar. ‘n Glimlag. ‘n Hand wat waai. ‘n Hoed wat gelig word. ‘n Knik van die kop.
Die enigste verwagting is waarskynlik dat jy ook vriendelik daarop sal reageer. In baie gevalle het die persoon al tussen ander mense verdwyn voordat jy besef dat jy vriendelik gegroet is. Ander kere word jy gehelp en teen die tyd dat jy tot verhaal kom, is die persoon al weer op pad.
Ongeag wat die Noord-Kaap nie sy inwoners kan bied nie, het ons verreweg die vriendelikste inwoners van alle provinsies.




