“Dit was nou ‘n dure les,” sê mense. Ek wonder hoekom dit altyd duur moet wees. Kan dit nie maar net ‘n goedkoop een wees nie?
Dié soort les sou waarskynlik nie so ‘n groot invloed gehad het nie. Dit sou dalk geen verskil aan die pad vorentoe gemaak het nie.
Een dure les is ongelukkig nie voldoende nie. Deur die loop van die lewe wag daar verskeie dure lesse wat ons moet leer. En as ons nie hierdie les die eerste keer onder die knie kry nie, wag dieselfde soort les vir ons iewers in die toekoms.
Dit gaan waarskynlik ook nie goedkoop wees nie.
Die omskrywing van duur impliseer dat die betrokke les ons iets gekos het.
Dat daar skade was.
Hierdie skade kan verskeie vorme aanneem. Emosioneel. Finansieel. Fisiek. Intellektueel. Ons kon beperkte tyd aan iets bestee het – wat later deel van hierdie dure les sou uitmaak.
Dit kan ons kosbare verhoudinge kos.
Sou ons ons hand op ‘n warm plaat druk en baie seerkry, sou ons dit die res van ons lewe nie weer doen nie. ‘n Mens sou dink dat al die dure lesse ons ‘n leeftyd lank bybly.
Oor sekere lesse het ons onsself belowe dat ons dit nooit weer sal hoef te leer nie. Een keer is meer as genoeg. Vorentoe gaan ons op die uitkyk vir sekere gevaartekens wees.
Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie. Voordat ons ons kry, het ons weer die gevaartekens verontagsaam en in ‘n spreekwoordelike slaggat getrap. Dalk was die gevaartekens hierdie keer effens verdoesel.
Solank as wat ons asem haal, gaan daar lesse wees wat ons moet leer. Dure lesse.
Watter dure les het jy onlangs geleer?



