Hoewel ons nie vir ‘n tafel hoef te wag nie, is die restaurant vol. Dit is ‘n gedruis van mensestemme en woelinge om almal van iets te ete en te drinke te voorsien.
Nadat ons bestel het, loer ek in die groot vertrek rond. Daar is bekende en onbekende gesigte. Van die bekendes wat oogkontak maak, groet vriendelik.
Mense kuier gesellig. Hier en daar kuier hulle staan-staan met dié wat aan ander tafels sit.
Iewers breek ‘n glas en word dit opgeruim. ‘n Babatjie se gehuil word hoorbaar bo die kinders wat speel.
Die atmosfeer is gesellig. ‘n Verskeidenheid van emosies vul die aandlug.
Teen die tyd dat ons klaar geëet het, het baie ander mense ook klaar geëet en die restaurant verlaat. Hul plek is deur ander mense ingeneem. Hulle het dalk ‘n ander kelner of het twee tafels bymekaar geskuif, maar die res bly min of meer dieselfde.
Dieselfde tafels. Dieselfde gebou. Dieselfde eetgerei en breekware. Ander mense.
Ons staan op en stap by die deur uit. Vreemdelinge beur verby ons. Ek aanvaar hulle gaan dalk by die tafel sit waar ons gesit het.
Dit is waarskynlik ‘n goeie opsomming van die lewe.
Ons lewe is vol emosies en ervaringe, saamgevleg met ander mense se lewe. Hoewel daar baie verskille is, is daar baie ooreenkomste.
Uiteindelik maak ons plek vir die volgende persoon. Wanneer ons tot sterwe kom, gaan ons huis deur iemand anders bewoon word. Hulle kan dalk verbeteringe aanbring of dit ‘n ander kleur verf, maar dit bly ‘n woonhuis.
Ons gaan nie vir altyd lewe nie. Ons gaan vervang word. By ons werk. By ons skool. By ons huis. In ons vriendekring.
Mag ons elkeen die beste maak van die kans op lewe wat ons gekry het.
Lees nog rubrieke hier.




