Die EFF het verlede week sy eerste wyk in die Noord-Kaap gewen met ’n voormalige ANC-burgemeester van Pampierstad as sy kandidaat. Olebogeng Tumodi is op 20 April as raadslid vir wyk 3 in die Phokwane-munisipaliteit in Pampierstad verkies. Hy was in November nog die ANC se kandidaat in dié wyk, en is as burgemeester verkies. Die ANC het hom in Januarie geskors omdat hy glo nie vir koukusvergaderings opgedaag het nie en “met opposisiepartye konkel”. Tumodi het Woensdag wyk 3 herower vir sy nuwe party, en so die ANC se meerderheid op die Phokwane-raad tot onder 50% gedwing. Die ANC het nou nege van die 19 raadslede op die Phokwane-raad. Die EFF, met vyf raadslede, is die amptelike opposisie. Die DA het twee raadslede, die F4SD twee en die VF Plus een.

Die verlies van Phokwane is ’n slag vir die ANC wie in 2016 ’n meerderheid in 23 van die Noord-Kaap se 26 munisipaliteite gehad het; ná November se munisipale verkiesing was dit 15 en nou is dit 14.

Dawie Boonzaaier, Rapport

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article