Omdat sy iets wou bemeester wat haar bang maak, en om haar eie grense te verbreed, het ’n parapleeg van Douglas onlangs vir die eerste maal die Midmar-myl geswem.
Gedagtig daaraan dat dit op 12 Januarie 2023 presies tien jaar ná die motorongeluk sou wees waarin sy ’n parapleeg gelaat is, het Marloui Nortjé in Mei verlede jaar met die Here gepraat en gesê dat sy iets, wat haar bang maak, wil oorwin. Sy het ’n vrees gehad om te swem – toe sy ongeveer twee jaar ná die ongeluk probeer swem het, het sy byna verdrink. So het dié jaarlikse swem-uitdaging van ongeveer 1,6 km in die Midmardam in die Pietermaritzburg-omgewing in haar gedagtes gekom.
“As jy opdaag, daag die Here op,” sê dié rekenmeester, en sê jyself is gewoonlik jou grootste hindernis.
Met die hulp van haar niggie, Hanerie Nortjé, en twee vriendinne, Elizca Jacobs en Lorné Lourens, wat ook haar fisioterapeut is, het hulle in September as ’n span begin oefen, en Nortjé moes ook weer leer swem.
“Maar Oktober was ons almal siek, en daarna kon ons net af en toe swem. Dit was eers van Januarie af dat ons hard kon oefen.”
In die ses weke het hulle in ’n 25 m-swembad geoefen, en later in ’n dam van 150 m.
Die Saterdag twee weke voor die Midmar-byeenkoms, wat op 11 en 12 Februarie plaasgevind het, het hulle beplan om ’n afstand van 1,6 km in die Vaalrivier te swem.
“Nog net 400 m verder, dan is julle by die Broadwater Lodge,” het een van die begeleiers op ’n boot dié dag vir die span in die water gesê.
“Ons het dit gedoen, en die ekstra 400 m en die wete dat ons 2 km geswem het, het die grense in my gedagtes verbreed.”
Tydens die oefensessies het Nortjé agtergekom dat sy die sterkste op haar rug swem. Tydens die Midmar-myl het haar niggie en vriendin onderskeidelik aan haar linker- en regterkant geswem, en Lourens by haar voete – en haar so gehelp om in die regte rigting te swem.
’n Band het Nortjé se bene teenmekaar gehou, en ’n ligte boei het gehelp om haar bene bo te hou.
“Ek het bonatuurlike sterkte beleef, en het nie regtig moeg geraak nie. Ek wou ook eers by die einde stop.”
Behalwe Jacobs, wat al voorheen die Midmar-myl geswem het, was dit vir die ander drie ’n eerste ervaring. Hulle het dit in een uur en 14 minute voltooi. ’n Volgende Midmar-myl, en ander byeenkomste, is reeds deel van die span se beplanning.





