Die Dierebeskermingsvereniging (DBV) in Kimberley is opgewonde oor die markdag wat GWK-handel Kimberley op Vrydag 30 Junie en Saterdag 1 Julie by hul perseel ten bate van dié dieresorgvereniging aanbied.
Die afgelope week kon klante geld gee of goedere-skenkings by GWK-winkels maak vir die vereniging wat voortdurend dierekos, komberse en kontant benodig om diere in hul bewaring te versorg en ander te red.
Alet Steyn, voorsitter van die Kimberley DBV, sê die vereniging het onlangs splinternuwe voertuie aangekoop nadat die ander onklaar geraak het, en die brandstof, onderhoud en herstelkoste te duur geword het.
“Die nuwe voertuie wat met inkomste uit ons markdae, tweedehandse winkel en skenkings gemaak is, bied groot verligting omdat ons nie gedurig meer met onklaar voertuie hoef te sukkel nie. NTLO en Label Lab het die handelsmerke gratis op die eerste twee voertuie geplaas, en Go Carters Car Wash was die voertuie gratis. Die derde voertuig wat met behulp van die Richard en Margaret Belling-trust gekoop is, se handelsmerke sal deur Infinity Graphix and Signs gedoen word.”
Die ou Ford Bantam en ’n Chevrolet Utility sal reggemaak en verkoop word.
Intussen maan Steyn troeteldiereienaars wat gedurende skoolvakansies weggaan en hul diere tuis los, om hul diere goed versorg te laat en nooit vir lang tye alleen nie. Boonop moet hulle warm bly.
“Indien mense nie hul diere by die hondeherberg laat wanneer hulle weggaan nie, moet hulle ’n betroubare persoon kry wat na hul diere kan omsien. Die versorger moet gereeld die huis besoek en seker maak hulle het genoeg kos, water en skuiling. Die versorger moet ook toegang tot vervoer hê, sou die diere dringend veearts toe moet gaan. Maak vooraf voorsiening vir enige moontlike mediese noodgevalle; soos ’n rekening by jou veearts of maak onmiddellike betaling aan ’n veearts. Maak seker troeteldiere het voldoende identifikasie soos ’n metaalplaatjie en bandjie of mikroskyfies.”
Die DBV het bekostigbare herberghokke vir Kimberley DBV-lede beskikbaar. Lidmaatskap kos R50 per jaar. Verblyfkoste wissel van R35 tot R70 per dag, afhangende van die tipe en grootte dier.
Die Kimberley DBV het 105 honde, 75 katte, vier perde, 30 ganse en vyf hase in hul sorg, waarvan sommige vir aanneming beskikbaar is.
Die DBV benodig altyd skenkings soos honde- en katkos, koubare speelgoed en duursame kosbakke wat maklik gesteriliseer kan word, muurkaste en rakke vir kathokke, mandjies vir teefhonde met kleintjies en katwyfies met kleintjies, peuselhappies vir honde en katte, medisyne en pille vir diarree-behandeling, teen vlooie en bosluise, halsbande, leibande, komberse en katsand.
Die stalletjies vir die GWK-handelmarkdag ten bate van die DBV kos R100 per dag. Bel vir Elsie Bekker of Zelda-Marie Hanekom by 053-831-2740 om ’n stalletjie te bespreek.





