Onafhanklike kandidaat behaal verstommende oorwinning in tussenverkiesing

Election
‘n Onafhanklike kandidaat het die tussenverkiesing in wyk 5 in Douglas gewen. FOTO: Helena Barnard

Ondanks ‘n sterk verkiesingsveldtog het die ANC sy koalisie-beheer oor die Siyancuma-munisipaliteit in Douglas op 26 November op dramatiese wyse teenoor ‘n onafhanklike kandidaat verloor.

Op dieselfde dag het die ANC ‘n wyk in die Hantam-munisipaliteit se tussenverkiesing behou.

In Douglas het die vorige wyk 5 ANC-raadslid, Deon Raymond Nico Ellison, vroeër na die Patriotic Alliance (PA) oorgeloop. Dié stap het die tussenverkiesing ontketen, waar die ANC nou sy beheer oor die raad in koalisie met die EFF verloor het. Hy het vyf van die 13 setels oor.

Die onafhanklike kandidaat Danfrid Herald Morolong het ‘n verstommende oorwinning behaal. Met ‘n kiesersopkoms van 65% het Morolong 1 119 stemme (46%) verower, terwyl die ANC slegs 597 stemme (25%) gekry het. Die PA het 458 stemme (19%) ontvang, gevolg deur die DA met 157 stemme (6%) en die EFF met 57 stemme (2%). Kiesers in die Breipaal-gebied het oënskynlik die DA met Morolong of die PA as hul keuse vervang.

LEES OOK: DA wen wyk 4 in Douglas; nog ‘n tussenverkiesing wag vir wyk 5

Dit laat ‘n moontlikheid vir ‘n nuwe potensiële koalisie tussen die DA met 4 setels, die VF Plus met 1 setel, en die twee onafhanklike raadslede wat saam ‘n sewe-setel-meerderheid het.

Die ANC se ondersteuning het van 55% in die 2021 munisipale verkiesings tot net 25% in die jongste tussenverkiesing gekwyn. By die Breipaal-gemeenskapsaal het die party se aandeel van 53% tot 21% gedaal. By die Weslaan Sekondêre Skool het sy ondersteuning van 62% tot 32% geval.

Op die stemdag het die ANC gereeld boodskappe op sy Facebook-blad geplaas waar hy die kiesers smeek om te gaan stem. By ‘n byeenkoms van ANC-vrywilligers wat deur dr. Zamani Saul, provinsiale ANC-voorsitter, toegespreek is voordat die uitslae bekend gemaak is, het hy nie baie hoopvol oor ‘n oorwinning voorgekom nie.

ANC behou wyk 7 in Hantam

Hy was wel beïndruk met die toe reeds bekende ANC-oorwinning in die Hantam-distrik en die teenwoordiges gevra om hardop hande te klap.

In die Hantam-munisipaliteit het die ANC se kandidaat Jaslin Janfred van Wyk wyk 7 behou, wat ‘n jaar gelede in ‘n vorige tussenverkiesing van die DA afgevat is. Die ANC het die tussenverkiesing, wat met die dood van hul wyksraadslid Gerrit Laban veroorsaak is, met 68 stemme gewen. Hier was die stemopkoms 56%.

Die ANC het 42% van die stemme ontvang, terwyl die DA 35% gekry het, die PA 12% en die VF Plus 10%.

Die ANC se steun het van 34% in die 2021-verkiesings tot 42% gestyg – dié party het sewe uit die 13 setels, wat dit ‘n algehele meerderheid gee.

LEES OOK: PA beskuldig van ‘onwettige politieke veldtogvoering’ by Paarlse skool

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article