Leerlinge van skole in die Springbok en omliggende gemeenskappe in die Noord-Kaap het onlangs aan die Wêreld Winddag-skolekompetisie deelgeneem. Dié kompetisie gebruik ‘n praktiese benadering om abstrakte wetenskap en omgewingskonsepte in praktiese vaardighede te omskep.
Aangebied deur die Kangnas-windkragaanleg, het vanjaar se uitdaging vyf plaaslike hoërskole byeengebring in ‘n skeppende en opvoedkundige ervaring. Dit was daarop gemik om loopbane in wetenskap, tegnologie, ingenieurwese, en wiskunde (STEM) se volhoubaarheid en die toekoms van hernubare energie in hierdie deel van die land te bevorder.
Die kompetisie, wat op gr.9-leerlinge gemik was, het praktiese leer met navorsing, ontwerp en spanwerk kombineer. Elke span is getaak om ‘n werkende modelwindturbine te ontwerp en te bou wat genoeg energie kan opwek om ‘n LED aan te sit. Daarbenewens moes hulle ook ‘n A3-skets of -foto indien gegrond op een van drie omgewingstemas: wind en natuur, windwerke, of wind op see.

“Dit gaan oor meer as net kompetisie; dit gaan oor die bou van ‘n lyn van toekomstige probleemoplossers en vernuwers. Wêreld Winddag bied ‘n kragtige platform om bewustheid te verhoog, nuuskierigheid aan te wakker en jongmense aan te moedig om loopbane in wetenskap, ingenieurswese en hernubare energie te oorweeg,” sê Rouchet Daniels, ekonomiese ontwikkelingsbestuurder vir Kangnas-windkragaanleg.
Die spanne met vyf lede elk moes ook kort aanbiedings lewer wat hul projekte verduidelik. Dit is beoordeel op doeltreffendheid, ontwerp, skeppendheid, volhoubaarheid en storievertelling.
Die Hoërskool Concordia was eerste, met die Hoërskool Namakwaland tweede en die Hoërskool Okiep derde.
“Ons leerlinge het die projek skeppend en vasberade aangepak en verken hoe kuns met windenergie kan skakel. Hulle het nie net nuwe vaardighede ontwikkel nie, maar ook selfvertroue gekry deur uitdagings te oorkom. Om as die wenners aangekondig te word, was ‘n trotse oomblik wat die harde werk wat hulle ingesit het, erken het,” sê Marsha Jones, onderwyser aan Concordia.
Pryse het R10 000 en die Turbine Triumph-trofee vir die wenskool behels, asook R5 000 vir die naaswenner en R2 500 vir die derde plek. Al die topspanne het ook handelsmerk-produkte, wetenskapsakrekenaars, aanlynkleinhandel-koopbewyse en sertifikate ontvang.
Die wenspan sal later vanjaar ‘n opvoedkundige toer na die Kangnas-windkragaanleg onderneem waar hulle ‘n eksklusiewe kykie agter die skerms sal kry oor hoe grootskaalse windturbines skoon energie vir gemeenskappe opwek.






You must be logged in to post a comment.