Tydens die afgelope naweek se werkswinkel en algemene jaarvergadering van die Noord-Kaap Rolbal-vereniging is Braam van der Westhuizen as president herkies.
Ander bestuurslede wat aangewys is, is:
- vise-president: Quintin Kock;
- sekretaresse: Caren van der Westhuizen;
- tesourier: Ansie Erasmus;
- kompetisiesekretaris: Gideon de Jager;
- kompetisiesekretaresse: René van Niekerk;
- mediaskakeling: Driaan van Niekerk;
- ontwikkeling: Roy Williams;
- fondse/bemarking: Thomas Abbott; en
- spelers verteenwoordiger: CP Mathewson.

Subdistrikverteenwoordigers is ook aangewys: Vir Kimberley is dit Adriaan du Plessis; Susan le Roux vir Kalahari, en Chris Taljaard vir Intervaal. Conroy se verteenwoordiger moet nog aangekondig word.
Lede, wat die sport reeds lank beoefen, en wie besonderse prestasies behaal het, is ook vereer. Die victor ludorum-trofee is aan CP Mattewson oorhandig en die victrix ludorum aan Marietjie van der Berg. Spesiale melding is gemaak van een van die oudste spelers, June Powall, wat op 90-jarige ouderdom steeds aktief by die sport betrokke is.
‘n Spesiale huldeblyk is gelewer vir die ontslape vorige president, Ivan Botha, wie ‘n geliefde mens was.
Van der Westhuizen sê baie harde werk lê voor, en benadruk dat die sport slegs sal groei as almal as ‘n eenheid funksioneer, nederig bly en rolbal dien. Hy het sy dank en waardering uitgespreek teenoor die bestuurslede wat uitgetree het, veral Jan Brits wat as vise-president geskitter het.
- Vanaf 20 tot 23 September bied Noord-Kaap Rolbal die Suid-Afrikaanse Interdistrikte o.35-toernooi by die Beaconsfield- en Sol Plaatje-rolbalbane in Kimberley aan. ‘n Totaal van 43 spanne van oor die land heen neem deel en die toernooi beloof om uitstekende rolbal van die bestes te lewer. Van der Westhuizen bevestig dat toeskouers welkom is om dit by te woon.






