BLOEMFONTEIN. Die moordenaar van die destydse direkteur van die Citymed Private Hospitaal by Prellerplein, is Donderdag 18 September in die Bloemfonteinse Hooggeregshof gevonnis.
Dit bring ‘n einde aan die jarelange ondersoek na die moord op Louis Siemens (54), wat op 10 Mei 2018 in die kelderparkering van Prellerplein in Dan Pienaar doodgeskiet is.
Stanley Bakili, die meesterbrein agter die moord, is kort ná die voorval daar naby in hegtenis geneem.
Die ondersoek wat gedoen is deur lt.kol. Tieho Flyman van die provinsiale georganiseerde misdaadeenheid, het gelei tot die inhegtenisname van agt verdagtes, onder meer drie polisieabeamptes, ‘n lid van die weermag en ‘n voormalige prokureur.
Gedurende die hofgebeure, het die man wat Siemans geskiet het, Xolisile Mbebetho skuldig gepleit en ‘n pleitooreenkoms met die staat aangegaan. Hy is tot 23 jaar tronkstaf gevonnis en het as staatsgetuie teen Bakili getuig.
Netwerk24 berig Bakili sou Mbebetho R200 000 betaal om Siemens te vermoor, wat hy nie gekry het nie.
Een van die polisiebeamptes is in aanhouding dood, terwyl die ses ander verdagtes tydens die hofsaak vrygespreek is.
Tydens Donderdag se hofsaak is Bakili op veelvuldige aanklagte soos volg gevonnis:
- Lewenslange tronkstraf vir moord;
- 15 jaar tronkstraf vir afpersing;
- 20 jaar vir geldwassery;
- 15 jaar vir die oortreding van die wet op die voorkoming van georganiseerde misdaad;
- 5 jaar vir die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen;
- 5 jaar tronkstraf vir die besit van ongelisensieerde ammunisie.
Die hof het beslis dat Bakili sy vonnis samelopend moet uitdien, wat beteken dat hy die volle termyn in die tronk sal deurbring.
Die Vrystaatse Kommissaris lt.gen. Baile Motswenayane sê dit is danksy getroue ondersoekwerk dat die vervolgingspan ‘n suksesvolle vonnis kon kry.
“Die polisie is daartoe toegewy om ernstige misdaad en gewelddadige misdaad te beveg om veiligheid vir inwoners van die Vrystaat te verkry,” het die generaal oor die vonnisoplegging gesê.





