Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne, het tydens sy terreinbesoek aan die Ekapa Minerals-myn in Kimberley waar vyf mynwerkers sedert Dinsdag se modderstorting vermis word, ’n somber boodskap gelewer dat die kanse groot is dat hulle beswyk het.
Tog is reddingswerkers saam met die myn onverpoosd besig om steeds na tekens van lewe te soek.
Die mynbedrywighede op die terrein is intussen gestaak. Werknemers by Joint Shaft wat nie direk by reddingspogings betrokke is nie, is opdrag gegee om tuis te bly.
In ʼn gesamentlike verklaring deur die minister en die mynbestuurder, het Mantashe gesê die fokus mag verskuif na die herwinning van liggame “eerder as om valse hoop by families te kweek.”

Mynbou ‘inherent gevaarlik’
Reddingpogings word bemoeilik deur watervlakke wat voortdurend styg, ondanks pogings om die water uit te pomp. Boorwerk vind sowat 20 meter bo die plek plaas waar die werkers vermoedelik vasgekeer is om met hulle te probeer kontak maak.
Die minister beskryf die ramp as ‘n “aanspreeklikheid wat die vorige eienaars, De Beers, ook moet dra. Die huidige mynmaatskappy het die myn by De Beers gekoop.”
Die hoofinspekteur van myne sal ‘n ondersoek instel om die bron van die water en die oorsaak van die storting te bepaal. Kenners van die Raad vir Geowetenskap (CGS) sal hiermee help. Die formele ondersoek sal eers begin sodra alle vermistes gevind of liggame herwin is.
Mantashe sê hoewel die doelwit en leuse in mynbou “geen leed ” is, is mynbou inherent gevaarlik en dodelik. Hy beskryf dit as ‘n “vrywillige risiko” wat werkers neem weens die aard van die bedryf.
Die gemeenskap en reddingspanne bly gefokus op die reddingstaak, terwyl die families aangemoedig word om hulle voor te berei op die moontlike verlies van hul broodwinners.
Alle beskikbare hulpbronne ingespan
Howard Marsden, hoofbestuurder van Ekapa Minerals, sê die familielede van die vyf vasgekeerde mynwerkers is by die reddingsbeheerkamer op die terrein van Joint Shaft ontvang, “waar hulle die soekplanne en deurlopende reddingspogings op 890 meter ondergronds via geslotebaan-TV kon bekyk.
“Vir nou is alle beskikbare hulpbronne ingespan om hulle te vind. Deeglike ondersoeke, intern en ook deur die departement van minerale en petroleumbronne, sal later volg om te bepaal wat die voorval veroorsaak het.”
LEES OOK: Uitdagende soektog duur voort na vermiste vyf myners by Kimberley myn
Reddingspogings duur voort met die volle ondersteuning van die Mynreddingsdienste (MRS), en proto-spanne bly by die myn waar hulle 24-uur per dag in rotasieskofte werk.
Benewens die vier spanne wat ná die aanvanklike voorval ontplooi is, is ‘n bykomende twee spanne ontplooi. Hul werk behels die uitpomp van water op verskillende plekke op die 890 meter-vlak in die myn. Rotsboorwerk word ook gedoen na die laaste bekende ligging van die vermiste mans.
Bykomende pompe en infrastruktuur is ondergronds in werking gestel om die pompkapasiteit te verhoog en toegang te verbeter. Dit bly ’n uitdagende taak weens ‘n voortdurende en wisselende invloei van water sedert die voorval.
“Om die tonnels te ontwater is krities om te begin om modder en rots uit te kry om toegang tot die laaste bekende ligging van die vermiste mans te kry.
“Die veiligheid van ons werknemers en die doeltreffendheid van die reddingsoperasie bly Ekapa se hoogste prioriteit,” sê Marsden.
Ekapa se mynbou-aktiwiteite bestaan uit vier bedrywe in die Kimberley-area, waarvan die Joint Shaft-operasie een is. Die ander bedrywe is geografies tussen vier en agt kilometer verder weg geleë.
“Ons is betrokke by en ondersteun die families, en gereelde kommunikasie, beradingsondersteuning en bystand word gebied.”
Ondersteuning ‘oorweldigend’
Senior leierskap van die departement van minerale en petroleumbronne is teenwoordig en word op hoogte gehou.
Die Mineraalraad van Suid-Afrika het ‘n senior span ontplooi om die Ekapa-bestuurspan met koördinasie en toesig by te staan. Vakbondverteenwoordigers was Vrydag ook betrokke by die fisieke inspeksie op die 890 meter-vlak.
Marsden sê laerskoolkinders het energiedrankies vir die reddingspanne afgelewer. ’n Restaurant in Kimberley verskaf twee maaltye per dag vir die soek-en-reddingspanne. Ander het koeldrank en versnaperinge vir mense by die myn gebring.
“Die soek-en-reddingspanne van vyf ander mynmaatskappye werk hand aan hand met die Ekapa-span om ons kollegas te vind.
“Ekapa bedank almal vir die medelye en bystand van heinde en verre in die uiters moeilike en uitdagende tyd; die ondersteuning is oorweldigend.”





You must be logged in to post a comment.