’n Man van Daniëlskuil is in hegtenis geneem nadat hy ’n bloedspoor van misdaad in die gebied agtergelaat het.
“Ek en die tannie het Maandagaand (13 Junie) 7de Laan gekyk toe sy iets in die kombuis hoor,” sê Wessel Kriek (77), wat saam met sy vrou, Valerie (76), op ’n kleinhoewe buite die dorp woon.
Kriek het gaan ondersoek instel en ’n man buite die kombuis sien staan.
“Ek het hom gevra wat hy soek. Hy het gesê hy wil ’n vuurwapen en petrol hê,” vertel Kriek.
“Ek het gesien die ruit van die kombuisvenster is gebreek en geweet hier is moeilikheid.”
Die man kon nie in die huis inkom nie omdat daar diefwering voor die venster is. Kriek het die polisie, sy bure en Henri Jacobs, sy plaaswerker, gebel en gevra dat hulle kom help. Jacobs, wat ook op die hoewe woon, het eerste op die toneel opgedaag en hom glo in die betreder vasgeloop. Kriek was in daardie stadium nie bewus daarvan dat Jacobs buite die huis aangeval word nie.
“Die man het Henri met ’n panga doodgekap en sy kop met ’n sementsteen verbrysel voordat hy sy lyk by ’n buitekamer ingesleep het.”
Jacobs, wat in sy 40’s was, het die afgelope ses maande vir Kriek gewerk.
Kriek sê die man is op die hoewe in hegtenis geneem.
Hy en Valerie is in 2018 ook op dié hoewe aangeval en gewond. Vyf mans het die egpaar, wat ’n winkel op die hoewe besit het, beroof.
Die polisie het die moord bevestig en gesê ’n 33-jarige man sal in die hof verskyn in verband met ’n reeks misdade wat Maandag gepleeg is.
Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die man het na bewering ’n meisie om 17:00 in Kuilsville, Daniëlskuil, met ’n mes gesteek en beroof toe sy op pad was om koopkrag te koop. Die man het weggehardloop en glo by ’n voertuig buite ’n haarsalon ingebreek en daarmee weggery.
Hy het die voertuig langs die pad gelos en tot by die kleinhoewe gestap, waar Jacobs vermoor is.



