Hoofartikel: Wat jou laat stop.
Stop vir ‘n oomblik en oordink hierdie mening. FOTO: Helena Barnard

Die voortbestaan van demokrasie oor die wêreld heen is in die weegskaal met aanduidings dat regerings en maatskappye die kern van demokrasie probeer onderdruk.

Dít volgens Global Rights Index (GRI) se jaarlikse verslag, wat aandui dat van die kernpilare van demokrasie die fundamentele regte en vryhede van werkende mense is. Volgens die 2024-verslag word dit oor die wêreld heen doelbewus deur dié in beheer verminder.

Miljoene huishoudings word toenemend deur beperkte inkomste en hoër lewenskoste afgetakel. Intussen beperk beleidmakers en sakeleiers werkers se regte om gesamentlik billike lone te eis of om hul reg om te staak wettiglik uit te oefen.

Ongeag herhaaldelike oproepe tot billike lone en werksvoorwaardes, verbrokkel werkers se vertroue in demokrasie, aldus die verslag.

Volgens die indeks word lande op ‘n skaal van 1 tot 5+ geplaas volgens die respek vir werkersregte getoon. Op dié skaal dui 1 sporadiese oortredings van werkersregte deur regerings en maatskappye aan. In lande wat 5+ ontvang is, is geen waarborg van werkersregte nie. Lande met dié gradering is onder meer Afghanistan, Burundi, Libië en Palestina, terwyl Bangladesh, China, Egipte, Eswatini, Indië, Iran, Irak, Nigerië, Saudi-Arabië en Zimbabwe ‘n 5-gradering gekry het.

Met ‘n 1-gradering is onder meer Oostenryk, Denemarke, Ysland, Ierland, Noorweë en Swede. Suid-Afrika het saam met onder meer Switzerland, Kanada, Australië en Namibië ‘n 3-gradering, wat gereelde oortredings van werkersregte behels.

Baie het verander sedert die aanvang van demokrasie 30 jaar gelede. Tog, die armes word steeds armer, en die nuwe rykes rol in blink, oordadige weelde.

Ontvang ‘n mens verklarings vanaf staatsinstellings, lyk sake vooruitstrewend. Soos die nuutste regulasies om blootstelling aan geraas en moontlike skadelike toestande by die werkplek uit te skakel of te versag. Dié regulasies is verlede week deur die departement van indiensneming en arbeid bekend gestel. Op die foto’s van sulke geleenthede is volronde glimlagte, goed gevulde ontwerpersklere, en die nuutste en mees moderne toerusting.

Tog, beweeg ‘n mens op grondvlak, lyk die foto’s wat jy neem anders. Daar kom jy werkers teë wat deur beperkte inkomste en hoër lewenskoste gewurg word; wat nie ‘n ander keuse het as om vir ‘n skandelike loon en in onveilige omstandighede te werk nie.

Dit terwyl hul eis om billike lone met ‘n volgende, en nog ‘n volgende, vergadering gesystap word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article