Die Apollo-teater in Victoria-Wes se lig skyn weer helder – dit nadat die nuwe teaterbestuurder, Christi-Ann Lombard, en haar span ‘n paar benoude dae in Januarie beleef het.
Hul geesdrif vir die nuwe jaar is gedemp met die werklikheid van opgeskorte elektrisiteit- en watertoevoer by die teater.

Met navrae aan die plaaslike munisipaliteit is hulle meegedeel dat die opskorting die gevolg is van skuld wat amper twee dekades gelede opgehoop het.
Hoewel vorige vrywilligerspanne ‘n deel van die skuld kon afwerk, is daar nog groot geldelike uitdagings wat voorlê.

‘n Bepaalde bedrag moes binne sewe dae betaal word om die teater se lig weer te laat skyn en met die hulp van geldinsamelingspogings is die doelwit bereik.
Lombard en Hanlie Swart, voorsitter van die direksie, is saam met hul span en lojale vriende van die Apollo-teater, nou reeds weer volstoom aan die gang.
‘n Heerlike kuiergeleentheid vir die gemeenskap is reeds aangebied en belangstellendes kan hul regmaak vir ‘n sielsverrykende Paasfeeskonsert op 12 April.
Die suksesvolle Kunsweek, soos in 2024, sal ook weer gedurende September aangebied word.
Tussendeur is daar prettige kinderteater vir die jonges van ouderdom en gees.
Die Apollo-teater is in 1928 as ‘n bioskoop begin, en is die enigste Art Deco-rolprentteater oor in Suid-Afrika.
Besoek Apollo Theatre Victoria West op Facebook, skakel 083-354-9210 of skryf aan apollotheatre.ada@gmail.com om meer inligting oor gebeure by dié teaterkompleks te kry.
‘n Kunsuitstalling deur Annelise Vorster Meyer vind tans plaas.






You must be logged in to post a comment.