Illustrasie van lewende water vir geestelike rubriek.
Lewende water, waar stilte is. FOTO: Helena Barnard

In die gebrokenheid van die lewe is dit maklik om in ‘n slagoffermentaliteit te verval.

Dit is ‘n ingesteldheid gevorm deur pyn, gebrokenheid of onregverdige diskriminasie. Hierdie perspektief sê: “Ek is magteloos.”

Dit is om jou omstandighede of ander mense te verwyt vir die situasie waarin jy jouself bevind. Jy bly vashaak by die pyn van die verlede.

Hoewel dit belangrik is om lyding te erken, was dit nooit God se bedoeling dat ons deur ons wonde gedefinieer moet word nie.

Die Skrif nooi ons uit om van wanhoop na genesing te beweeg, van slagoffer na oorwinnaar. In Johannes 5:5-9 ontmoet Jesus ‘n man by die bad van Betesda wat al 38 jaar verlam was. Wanneer Jesus vra: “Wil jy gesond word?” antwoord die man met verskonings: “Ek het niemand om my te help nie… iemand anders gaan altyd voor my in.”

Sy antwoord wys op meer as net fisiese verlamming – dit wys op ‘n ingesteldheid vasgevang in hopeloosheid.

Tog gaan Jesus nie in op sy verskonings nie. Hy beveel: “Staan op, tel jou goed op en loop.”

Genesing begin wanneer jy ophou om te oordink hoekom jy vasgevang is, en begin reageer op Jesus se oproep om op te staan.

Romeine 8:37 verklaar: “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat ons liefhet.”

In Christus is ons nie slagoffers nie – ons is verlos, bemagtig en geliefd. Selfs wanneer die lewe ons onderkry, bly ons nie verslaan nie.

Psalm 34:18 verseker ons: “Die Here is naby aan die gebrokenes van hart; Hy red die wat verslae is van gees.” God ontmoet ons in ons pyn, maar Hy laat ons nie daar nie.

Hoop beteken nie om te ontken wat gebeur het nie, maar om te glo in wat God vir jou kan doen. Jesaja 61:3 beloof dat Hy vir dié in Sion wat treur, eer sal gee in plaas van smart, vreugde in plaas van droefheid, blydskap in plaas van hartseer. Dit is nie net profetiese woorde nie. Dit is ‘n goddelike werklikheid vir dié wat op Hom vertrou.

  • Lees nog rubrieke hier.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article