Leeus Kgalagadi
Leeus in die Kgalagadi-oorgrenspark. FOTO: Verskaf

‘n Nuwe leeunavorsingsprojek vind in die Kgalagadi-oorgrenspark plaas. Dié projek word deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Parke (SANParke), in vennootskap met die Trust vir Bedreigde Natuurlewe (EWT) uitgevoer.

Genevieve Maasdorp, SANParke se kommunikasiebestuurder: Ariede Streek,sê hierdie belangrike projek sal meehelp om akkurate inligting oor die totale leeubevolking in die Suid-Afrikaanse kant van die uitgebreide oorgrenspark in te samel. Sy sê een van die doelwitte van die projek is om vas stel hoe groot die leeubevolking in die park is.

Leeus speel ‘n belangrike rol in die handhawing van ‘n gesonde ekosisteem, en die inligting sal nie net die aantal leeus bepaal nie, maar ook hoe en waar hulle deur die landskap beweeg.

“Daarom sal ons spanne die volgende paar maande in die veld wees en kameras, spore, waarnemings en ander veilige, nie-indringende metodes gebruik om inligting in te samel. Elke leeu het unieke kenmerke soos snorbaardvlekke en letsels wat ons help om hulle individueel te identifiseer.

Die Kgalagadi-oorgrenspark is bekend vir sy swartmaanhaarleeus. Foto: Verskaf

“Besoekers aan die park mag navorsingsvoertuie opmerk wat met SANParke- of EWT-logo’s gemerk is. Hierdie spanne het toegang tot die leeus om navorsingsfoto’s te neem”.

Maasdorp versoek alle besoekers om die navorsingspanne ruimte te gee, en nie saam te drom op punte waar die spanne opgemerk word nie.

Klem word daarop gelê dat die navorsingspanne toestemming het om paaie te gebruik wat glad nie vir ander besoekers toeganklik is nie. Die publiek moet asseblief nie die spanne volg en ook van daardie paaie gebruik maak nie, versoek Maasdorp.

SANParke sê hierdie vennootskap is ‘n groot stap vorentoe vir leeubewaring.

Besoek SANParks se webwerf en die Facebook-blad Kgalagadi Sightings vir meer inligting oor dié oorgrenspark.

Van die lede van die leeunavorsingsprojek. Foto: Verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article