Sewe vroue, waarvan vier lid van die Kuruman-tak van die Vrouelandbouvereniging (VLV) is, het ’n leerwerkswinkel in die dorp bygewoon.
Dit is vroeër in Oktober deur Lourens Brandt van Cape Leather Training by La Victory aangebied, en kursusgangers kon uit een van agt projekte kies.
Die VLV-vroue het gekies om die “Lily bag”-handsak te maak, en die ander drie kursusgangers die rugsak.
Die pante vir die sakke is vooraf gesny, en kursusgangers het geleer om dit aanmekaar te sit.
Spesiale leergom is gebruik om die nate eers te plak. Daarna is ’n hamer en ’n skerp beiteltjie gebruik om gleufies te maak vir die garing om deur te gaan, gevolg deur handstikwerk met dik garing en twee naalde wat gelyktydig gebruik word.
Blom Grobler van La Victory het eetgoed verskaf, daar is saamgekuier, en ná ’n produktiewe dag kon elkeen ’n voltooide produk huis toe neem.





