Die kuberruimte, met sy positiewe en negatiewe aspekte, is hier om te bly.
Moenie jouself flous en dink jy kan jou kind weghou van die internet, of hulle straf deur hul toestelle weg te neem nie.
Hoewel grense en reëls in plek moet wees betreffende die gebruik van toestelle, het onderrigmetodes sodanig verander dat internetgebruik onafwendbaar is.
Dit is ook aanlyn waar kinders met ander kontak maak (“connect”), en dit is hierdie “connectedness” wat hulle laat tiek.
Ongelukkig is dit ook hier waar hulle aan die gevare en kuberboeliery blootgestel word.
Afrikaans.com lig die volgende belangrike kwessies uit:
Ouers moet hulself bemagtig deur uit te vind hoe verskillende apps, webwerwe en so meer werk; ouers moet as’t ware die gevare of risiko’s sien voordat dit die kinders negatief kan raak.
Blootstelling
Dit sluit kuberboeliery in; maak seker jy weet wat dit is en wees daarop bedag. Dit is daarom belangrik om ’n goeie verhouding met jou kind te hê sodat hy of sy die vrymoedigheid het om bekommernisse met jou te deel.
Ouerskapkenner Heidi Malan van Parent and Educational Training, sê dat kuberboeliery selfs meer skadelik as tradisionele boeliery kan wees omdat dit heeldag en aldag kan voorkom, en ’n baie wyer gehoor kan bereik.
Kuberboeliery is moeilik om te identifiseer, veral as jy nie bewus is van wat op jou kind se sosialemediaplatforms gebeur nie.
Dit sluit aanlynvernedering en negatiewe opmerkings in, en foto’s en video’s word dikwels geplaas waar die slagoffer geteiken word.
Wat vir jou as volwassene dalk nie “so erg” lyk nie, is dikwels nie die geval vir ’n jong mens nie en vir so ’n kind voel dit asof sy hele wêreld inmekaartuimel – soms met ernstige gevolge.
Maak dus seker jou kind weet dat:
- boeliery nooit aanvaarbaar is nie;
- hy daarteen mag en moet opstaan;
- hy nie op kwetsende boodskappe moet reageer nie;
- hy ander wat geboelie word, moet ondersteun; en
- hy daaroor moet praat.
Ouers kan die volgende doen:
monitor jou kind se aanlynaktiwiteit – “ek het nie geweet nie” is nie ’n verskoning nie. Gaan hul privaatheidinstellings na om seker te maak ongewenste persone kry nie toegang tot hul persoonlike inligting nie;
beklemtoon die belangrikheid van internetveiligheid. Dis sluit in aanlynprivaatheid en die beskerming van persoonlike inligting (moenie foto’s, videos, ID-nommers, telefoonnommers, en so meer, deel nie), kyk mooi wat is in die agtergrond van jou foto – dit is dikwels moontlik om uit die agtergrond vas te stel waar jy jou bevind; moedig jou kind aan om te dink wat die gevolge van hul woorde en/of optrede op ander kan hê – en hulle daarom eers moet dink voordat hulle ’n plasing maak;
beperk tegnologiegebruik. Dit sluit in die hoeveelheid tyd wat jou kind aanlyn en op toestelle deurbring, beperking van sekere webtuistes en apps en veral ook op die ouderdomsgepastheid hiervan sodat jou kind nie blootgestel word aan ongewenste inhoud nie. Sê vir jou kind hoekom die bepaalde app nie geskik is nie; stel die voorbeeld en handhaaf goeie digitale gewoontes. Jy kan nie vir jou kind sê hy mag nie heeldag op sy foon wees nie en dan is jou foon permanent deel van jou hand nie; leer hulle om nie alles op sosiale media vir soetkoek op te eet nie.
As hulle onseker voel oor iets, hetsy morele kwessies of ander uitdagings en of iets die waarheid is, moet hulle eerder vir jou as ouer vra om te help; dring aan op digitaalvrye aandetes. Toestelle word weggesit en daar word rondom die etenstafel gesels; moedig persoonlike kommunikasie aan. Dit het te maklik geraak om vinnig ’n WhatsApp of stemboodskap te stuur, in plaas daarvan om van aangesig tot aangesig met vriende te kommunikeer – veral as dit iets is wat uitgepluis moet word; praat met jou kind oor empatie. Maak hulle bewus daarvan dat almal nie eenders is nie en ook nie dieselfde reageer nie. Leer hulle dat “hulle manier” nie noodwendig die “regte” of “enigste manier” is nie en dat hulle maar gerus daardie maat sy plekkie in die son kan gun.
Beveilig jouself
Dink voor jy klik. Die kuberskelms wil ons uitvang. Wees daarom bedag op e-posse met vreemde adresse of spelfoute – tipiese “phishing”-e-posse/boodskappe. Daardie e-pos wat lyk asof dit van jou bank afkomstig is – met die “regte” logo – maar die adres gee hulle weg.
Fopnuus
Maak seker wat jy lees is die waarheid voordat jy dit met ander deel. (Tik “fake news” in jou soekenjin in om maniere te kry om na te gaan of iets waar of vals is);
Beskerm jou persoonlike inligting.
Maak seker jy weet wat met jou inligting gedoen kan word. Jy kan die stellings op jou foon of rekenaar aanpas en slegs toestemming gee vir dit waarmee jy gemaklik voel;
Bankdienste en aanlyn-inkopies.
Dit is gerieflik, maar wees bedag op die gevare van kuberkraking (“hacking”). Een wenk is om nie jou inligting te stoor (“save”) nie. Doen liewer elke keer die transaksie van vooraf.
Jy is in beheer.
Doen jou navorsing, wees op die hoogte van die jongste tegnologie en in die geval van jou kinders, maak seker jy is deel van hul aanlynlewe sodat jy nie op ’n dag verras word omdat jy nie geweet het nie.
Rianette Leibowitz sê tereg: “Elke klik laat ’n digitale voetspoor en lei tot ’n rimpeleffek.”
Daarom, neem beheer, stel grense en onthou: Die persoon langs jou in lewende lywe is baie belangriker as die een met wie jy tans aanlyn gesels.
Bron: Afrikaans.com




