Swangerskap
Kommer bestaan oor die styging in tienerswangerskappe. FOTO: pexels.com

Ongeag die vreugde oor babas wat op Kers- en Nuwejaarsdag gebore is, word kommer uitgespreek oor die styging van tienerma’s wat geboorte geskenk het.

Op Kersdag 2025 is 43 Noord-Kaapse babas in staatsklinieke en -hospitale gebore. Hiervan is 21 seuns en 22 meisies.

In totaal is 1 668 babas op dié dag in die land se staatsinstellings gebore. Die meeste (428) is in Gauteng gebore, gevolg deur KwaZulu-Natal (302). Die tweede minste (88) is in die Vrystaat gebore, met die Noord-Kaap waar die minste geboortes aangeteken is.

  • Volgens inligting het 130 tienerma’s op Kersdag geboorte geskenk, 90 meer as in 2024.

Op Nuwejaarsdag is 1 669 babas in die staatsinstellings gebore, teenoor die vorige jaar se 1 448. In die Noord-Kaap is 50 gebore, waarvan 28 seuns is en 22 meisies. Die meeste Nuwejaarsbabas is in Gauteng gebore, waar 396 hul eerste lewenslig aanskou het.

Volgens die nasionale gesondheidswoordvoerders, Foster Mohale en Sello Lediga, word ‘n beroep op sterker samewerking met die regering, nie-regeringsorganisasies en ander belanghebbendes, insluitend ouers, gedoen om hierdie kwessie aan te spreek.

Ingrypings om jong meisies in ‘n vertroulike omgewing meer oor seksuele aktiwiteite op ‘n vroeë ouderdom in te lig, asook die invloed op geestesgesondheid, is onder meer nodig.

Jeugvriendelike sones binne primêre gesondheidsentrums om veilige ruimtes met vertroulike gesondheidsdienste te bied, kan ook help.

‘n Beroep is ook op alle ouers gedoen om toe te sien dat babas die voorgestelde inentings kry om hulle teen gevaarlike en aansteeklike kindersiektes te beskerm.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article