Drie oorlewendes van ’n matriekklas van 1958 van Upington het onlangs “reünie” gehou.
Deen “Tonna” Mouton (83), John “Doks” Kruger (82) en Gert Loxton (83) was saam in een klas vanaf die destydse st. 7 (nou gr. 9) tot in matriek.
Dié drie oud-leerlinge van die Hoërskool Carlton van Heerden het met ’n geselligheid by ’n restaurant in Upington herenig ná die drietal 65 jaar gelede in een skoolklas gesit het.
Wat aanleiding tot hul onlangse ontmoeting gegee het, was die roudiens van Kruger se broer Julius.
Mouton, ook ’n bekende oud-Saru-rugbyspeler, is ’n afgetrede skoolhoof van die Laerskool Rosendal, terwyl Loxton nog steeds in die omgewing van Loxtonvale naby Keimoes boer.
Kruger woon in Kaapstad en is ’n afgetrede tekenaar van beroep.




