“Ons het hierheen gekom omdat dit so lekker op die Yonder Hartsfees was,” vertel Liezel Ferris, ’n inwoner van Kimberley, wat die tweede Carols under the Stars-geleentheid by Yonder bygewoon het.
Onder stringe Kersliggies en die sterrehemel kon besoekers op Woensdagaand 22 November saam met die Yonder-inwoners Kersliedere sing, terwyl hulle om tafels of op piekniekkomberse gekuier het.
Jannie van Zyl, direkteur van die Noord-Kaaplandse Geestesgesondheidsvereniging, vertel die gedagte van so ’n samesyn het verlede jaar posgevat toe weereens besef is dat baie van die inwoners van Yonder glad nie oor die feestyd huis toe gaan nie.
“Ons wou die Kersfeesgevoel hierheen bring,” sê hy.
Deur dié geleentheid vir hulle te skep, word nie net waarde tot dié volwassenes met gestremdhede se lewe gevoeg nie. Die publiek kry boonop opnuut die geleentheid om die Kenilworth-landgoed te besoek en van die inwoners bewus te raak, asook van die werksaamhede wat daagliks hier aangepak word.
Toegang was gratis, maar besoekers is gevra om nuwe onderklere, sokkies, handdoeke of waslappe vir die mans- en vroue-inwoners van Yonder saam te bring.
Besoekers kon ook kampeerstoele, komberse en piekniekmandjies bring, of die kosstalletjies ondersteun het.
Van Zyl sê die mikpunt is om dit ’n jaarlikse geleentheid te maak, met ’n toenemende aantal Kersliggies wat opgesit gaan word.





