“Higher education collapses if the morals and character fail to prove and show that.” – Ehsan Sehgal
In ’n land soos dié, met mense soos ons, word die kaf van die koring geskei; dit spruit uit saad wat in vrugbare aarde gedy. Die aardkors moet nat en vol voedingstowwe wees, die regte grondstruktuur gee lug, die temperatuur moenie te warm of te koud wees nie.
Sodra die plantjie kop uitsteek, moet hy teen wind, hael, droogte en vloede beskerm word. ’n Goeie boer sal gedurig sy hand op sy plante hou. Een oog gekorrel op die plant, die ander na die horison en na bo. Die lesse wat hy uit die verlede geleer het, is sy anker. Sy drome gaan sy toekoms verwesenlik.
Sy waardes hou hom staande teen vuur, wind, water en lug.
Waardes soos eerlikheid, standvastigheid, vlytigheid, positiwiteit, verdraagsaamheid, empatie, sindelikheid, selftrots, respek, dapperheid, geduld, verantwoordbaarheid, betroubaarheid, integriteit, liefde, hoop en ander.
Eienskappe wat ouers aan hul kinders in gene en in opvoeding gee. Hy drink dit in met moedersmelk, proe dit in sy eerste vaste kos, leer dit met sy eerste woorde, voel dit as hy wankelrig regop staan en die wêreld van ’n ander perspektief beleef en die toekoms herken.
Dié eienskappe maak die kind iemand wat sy medemens, die aarde, sy diere- en plantelewe koester. Geen medalje, graad, sertifikaat, geleerdheid of amp, of jy die premier of die president is, verseker dié goedheid nie.




